Mik na R250000

Burgemeestersgholfdag om studente te help

Oudtshoorn se bur-gemeester Colan Syl-vester wat met die Burgemeestersgholf-dag ’n bedrag van R250000 vir opvoeding wil insamel. Foto verskaf

Oudtshoorn se burgemeester Colan Sylvester wat met die Burgemeestersgholf-dag ’n bedrag van R250000 vir opvoeding wil insamel. Foto verskaf

DIE Groter Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, hoop om R250 000 in te samel met sy Burgemeestersgholfdag op Saterdag, 2 Desember.

Sylvester hoop om met dié fondse studente by te staan met die betaling van hul studiegeld.

“Duisende gr 12-leerders voltooi elke jaar hul hoërskoolopleiding, maar is nie finansieel daartoe in staat om verder by ’n universiteit of kollege te gaan studeer nie. Die munisipaliteit het vanjaar tien plaaslike studente ondersteun om die program van die Vrystaatse Universiteit by die Oudtshoorn-kampus van die Suid-Kaap Kollege by te woon.

“Ons het ook tien gegradueerde studente van Oudtshoorn met die hulp van die Wes-Kaapse Tesourie ondersteun om hul praktiese internskap by die munisipaliteit te doen.”

Sylvester, ’n voormalige skoolhoof, sê opvoeding lê hom na aan die hart en dat dit een van die kragtigste hulpmiddels is om die wêreld te verander en ’n beter plek te maak. “Nelson Mandela het gesê opvoeding is die sleutel om mense se lewens te verander en armoede te verlig.”

Sylvester hoop dat 120 gholfspelers die dag sal ondersteun. Die aantal inskrywings staan tans op die halfpadmerk, met inskrywings wat ook reeds van buite Oudtshoorn ontvang is van dorpe soos George, Plettenbergbaai, Kareedouw en uit die Oos-Kaap.

Ian Laubscher, die munisipaliteit se sportont­wikkelingsbeampte, het gholfspelers aangemoedig om die gholfdag te ondersteun.

Vir inskrywings kontak hom by 0828814186 of laubscheri@oudtmun.gov.za. Inskrywings sluit op 1 Desember.