Atlete spring weg vir die 12,5 km-wedloop. Foto’s: Higgo Jacobs

Lloyd Bosman, wenner van die 21,1 km.

Godwin Heyns (regs) wat tweede was, en John April van Oudtshoorn wat derde was.
Deur Higgo Jacobs
ALTESAME 3002 atlete van regoor die land het Saterdagoggend in koel winderige toestande die Meiringspoort 21,1- en 12,5 km-wedlope met sy skilderagtige roete aangedurf.
Dit was die 26ste keer dat dié gewilde padwedlope, wat in die Poort begin en op De Rust eindig, aangebied is met die belangstelling onder langasems wat volgens die organiseerders steeds jaarliks toeneem.
Slegs 310 atlete het aan die eerste wedloop op 23 Oktober 1993 deelgeneem.
Mathys Roets, die bekende sanger wat ’n paar jaar gelede in ’n motorfietsongeluk van sy middellyf ondertoe verlam is, het die 12,5 km-wedloop in sy rolstoel aangepak en voltooi!
Lloyd Bosman van George het weer soos verlede jaar die 21,1 km-wedloop gewen. Sy wentyd was 1 uur 3 min 51 sek, wat 14 sek vinniger is as sy tyd van verlede jaar.
Godwin Heyns, ook van George, was tweede in 01:09:10 en John April van Oudtshoorn derde in 01:09:11. Al drie atlete is van die Nedbank-atletiekklub.
Melissa van Rensburg van George (01:22:05) was die eerste vrou oor die wenstreep. In dié afdeling was Andrea Ranger (01:25:55) tweede en Mandi Herhdat (01:27:02) derde.
Die 12,5 km-wedloop is gewen deur Donovan Jantjies in 41 min 13 sek, gevolg deur Luther Blaauw (41:51) en Anderson Ncube (42:08). Al drie is ook van Nedbank-atletiekklub.
Sunel Jacobs van Stellenbosch was in die 12,5 km-wedloop die eerste vrou oor die wenstreep in 50:26, gevolg deur Anastatia Plaatjies (50:32) en Candice van Beulen (51:40).
Helette du Plessis (van Gimmies) het die junior afdeling vir vroue gewen in 01:01:09.
Hestia Burger het die Grootmeesters-afdeling vir vroue in 01:16: 27 gewen met Ceilia Swiegers wat tweede was in 01:32:37 en Geraldine Loftie-Eaton wat derde was in 01:41:34.