
Aksie tydens ‘n vorige Kango Marathon. Foto: Die Hoorn
Deur Higgo Jacobs
MEER as 2000 langasems, 500 meer as verlede jaar, het ingeskryf vir Saterdag se 40ste Kangomarathon en -halfmarathon wat deur die Oudtshoorn Infanterieskool aangebied word.
Die marathon (42,2 km) begin by die Kango Grotte en die halfmarathon (21,1 km) by die Ou Tol. Albei wedlope begin om 06:00 en eindig op die sportterrein van die Infanterieskool.
Richard Hughes, organiseerder van dié gewilde byeenkoms, sê die logistiek van die wedlope is ’n groot uitdaging, “maar dit is vir my ’n lekker uitdaging, want die groot getal deelnemers, toeskouers, beamptes en belangstellendes wat op Oudtshoorn gaan toesak, is goed vir die dorp”, het hy aan Die Hoorn gesê.
Die Kango Marathon is ook ’n kwalifiserende wedloop vir die twee groot ultrawedlope, die Twee Oseane in Kaapstad en die Comrades tussen Pietermaritzburg en Durban.
Inskrywings het reeds gesluit. Volgens Hughes sal geen laat inskrywings aanvaar word nie.
Alle deelnemers moet hul elektroniese skyfies môre (Vrydag) tussen 15:00 en 22:00 by die militêre basis afhaal, of Saterdagoggend tussen 04:45 en 05:50 by die onderskeie beginpunte.
Vervoer is om 04:00 beskikbaar vanaf die Infanterieskool na die Kangogrotte en om 05:00 na die Ou Tol. Deelnemers wat dié diens wil gebruik, moet seker maak dat hulle betyds is.
Geen fietsryers of privaatvoertuie sal toegelaat word om die atlete op die roete te volg nie. Noodhulp sal oral langs die roete verskaf word en daar sal geen tekort aan waterpunte en verversings langs die pad wees nie.
Hughes het deelnemers wat die naweek nie verblyf op Oudtshoorn kan kry nie, genooi om ’n tentjie op die sportterrein van die Infanterieskool te kom opslaan.
Die prysuitdelingfunksie is Saterdag om 11:30.
Die wedlope vind plaas ingevolge die reëls en regulasies van Atletiek SA en Atletiek SWD.
Vir meer inligting kan Pamela Geduld tydens kantoorure gekontak word by 044 873 0023 of Hughes by 082 563 4573. Inligting is ook beskikbaar by www.aswd.co.za.