Lede van die Oudtshoorn Sportfees se plaaslike reëlingskomitee en sportliggame besig om te beraadslaag. Van links is Mandilakhe Matika, logistieke beampte van die Wes-Kaapse departement van Kultuur en Sport (DKS), Jean Neethling, ook van DKS, Corné Bence van Eden Fietsry, Dave van der Walt, sekretaris van die Eden Sportraad, Julian Fillies, sekretaris van die Groter Oudtshoorn Sportraad, Ian Laubscher, voorsitter van die reëlingskomitee, Brian Lucas, sekretaris van die reëlingskomitee, Irene Malgas en Morné Thysse, albei van munisipale rampbestuur, en Aurelia Oliphant, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn Munisipaliteit. Die foto is geneem deur Ntobeko Mangqwengqwe, kommunikasiebestuurder van die munisipaliteit wat ook ’n lid van die reëlingskomitee is.
GOEIE nuus vir sportgeesdriftiges van die Groter Oudtshoorn en omgewing is dat die Oudtshoorn Sportfees vanjaar gaan herleef en van Vrydag, 15 Junie, tot Saterdag, 14 Julie, gaan plaasvind.
Die amptelike bekendstelling, waar meer besonderhede bekend gemaak sal word, vind Maandagaand plaas.
Altesame sowat 3 000 deelnemers word verwag by hierdie sportgebeurtenis, wat deur die Oudtshoorn
munisipaliteit as sporttoerisme bestempel word en behels ’n wye verskeidenheid mededingende én prettige items as deel daarvan.
Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, sê dit is die eerste keer dat die sportfees ’n maand lank gaan duur vergeleke met ’n week of twee in die verlede. “Dit is opwindende nuus en bevestig dat die Groter Oudtshoorn inderdaad die sportmekka
van die Suid-Kaap is,” het hy gesê.
Die organiseeerders, wat bestaan uit die Oudtshoorn Munisipaliteit, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, die Eden Distriksportraad en die Groter Oudtshoorn Sportraad, is reeds hard aan die werk om van die fees “ ’n heuglike
en onvergeetlike gebeurtenis te maak”.
Ian Laubscher, die munisipaliteit se sportontwikkelingsbeampte en voorsitter van die reëlingskomitee van die fees, sê die program van die sportfees sal Maandag bekendgestel word. “Al wat ons in hierdie stadium kan sê as dat ’n aantal nuwe
sportsoorte deel van die fees sal wees.”