Louis Visser (links) en Marshall Hendriks. Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
TWEE belowende jong fietsryers van Oudtshoorn, Louis Visser en Marshall Hendricks, neem vanjaar van 15 tot 21 Oktober vir die eerste keer aan die Cape Pioneer Trek deel en het hul oog daarop om onder die eerste tien ryers te wees wat dié uitmergelende multiskof-bergfietsren voltooi.
Die twee ry vir die Cycling 4 Diabetes-span.
Hoewel albei eintlik op padfietsrenne fokus, neem hulle vanjaar aan die Cape Pioneer Trek deel omdat daar min padfietsrenne in die Suid-Kaap aangebied word en omdat dit buite die padfietsseisoen val.
Visser en Hendricks ken mekaar al die afgelope drie jaar en weet presies hoe om mekaar aan te vul tydens ’n fietsren.
Hulle oefen reeds sedert Desember dikwels gereeld saam en ry daagliks tussen 120 en 150 km. Visser het teen Junie vanjaar siek geword, vermoedelik omdat hy ooroefen was.
“Ek voel egter nou weer perdfris en maak staat op pasta en rys om my stamina te gee,” vertel hy.
Hendricks volg dieselfde dieet.
Wat is hulle strategie vir die Cape Pioneer? “Ons gaan dit skof vir skof benader. Dit help nie om te vinnig te begin en dan het jy nie bene teen die einde van ren vir die Swartbergpas nie!” vertel hulle.
• Visser wat verlede jaar nog in die skoolbanke gesit het, het in graad 7 begin fietsry toe hy sy pa, Louis sr, met die padfiets gevolg het.
Corné Bence, president van Eden Fietsry, het sy talent raakgesien en aan hom ’n padfiets geskenk.
Visser se groot deurbraak was in 2015 toe hy met behulp van die LEADout Academy in Europa aan padfietsrenne gaan deelneem het.
Met sy terugkeer was hy steeds onder LEADout se vlerk en het hulle hom bygestaan met onder meer die bepaling van langtermyndoelwitte.
Visser was van Maart tot Junie vanjaar een van ses fietsryers van Afrika wat uitgesoek is vir Team Dimension Data se voedingspan wat in Italië en Frankryk deelgeneem het. “Ek is baie trots daarop dat ek op 18-jarige ouderdom die eerste Suid-Afrikaner is wat van amateurvlak in ’n internasionale span opgeneem is.”
Verlede jaar was Visser die eerste junior oor die eindstryd van die Kaapse Fietstoer in 02:39:00, slegs 3 min 8 sek stadiger as die algehele wenner.
Hy sê hy is baie dank verskuldig aan sy pa wat hom finansieel ondersteun het totdat hy lid van ’n geborgde span geraak het. Hoewel hy padfietsry verkies, het hy ook aan die 7Weekspoort Bergfietsren deelgeneem.
Vir Visser is sy eindelike doelwit om binne drie jaar lid te word van die SA World Tour-span wat aan onder meer die Tour d’France deelneem. “Ek glo dit is binne my bereik.”
• Hendricks (22), ’n bekende in plaaslike fietsrykringe, het in Volmoed grootgeword en is ’n oud-leerder van Bridgton Senior Sekondêr. Hy vertel Denzil Afrika was sy groot mentor terwyl SWD Fietsry se Lee Aries het hom twee jaar lank op skool afgerig het. Hy beklemtoon ook Bence se rol in sy sukses tot dusver.
Sy grootste prestasie tot dusver was die tweede plek wat hy verlede jaar in die o.23-ouderdomsgroep van die Daily Dispatch Cycle Tour oor 102 km behaal het. Hy was algeheel sewende in dié fietsren. Hendricks was tweede in die onlangse Timbercity Fietstoer, kort op die hakke van Visser.
Hendricks, wat smiddae en saans by Mooiplaas Gastehuis werk, begin reeds vroeg soggens saam met Visser oefen – sowat vier ure lank.
Hy sê hy stel nie tans daarin belang om oorsee te gaan meeding nie en stel sy visier daarop om ’n professionele SA fietsryer te word.