Lleythan slaan silwer medalje los

Afrika-streekkaratekampioenskap

Lleythan Smith (15) wat uitstekend gevaar het by die Afrika Streekkaratekampioenskap. Hy het ’n silwer medalje gewen. By hom is sy afrigter, Avril Maarman.  Foto: Wyndham Ewerts

Lleythan Smith (15) wat uitstekend gevaar het by die Afrika Streekkaratekampioenskap. Hy het ’n silwer medalje gewen. By hom is sy afrigter, Avril Maarman. Foto: Wyndham Ewerts

Deur Wyndham Ewerts
Lleythan Smith (15), ’n Protea-karateka van Oudtshoorn, het ’n silwer medalje in die kumuti-gevegstyl gewen by die Afrika-Unie Sport-raad se streek 5-karatekampioenskap wat in Mei in Botswana plaasgevind het.

Lleythan, ’n graad 10-leerder van die Hoërskool Oudtshoorn, het in Maart Protea-kleure verwerf deurdat hy ’n goue medalje by die nasionale kara-tekampioenskap in Durban gewen het.

Lleythan van die Jikkai-do-klub op Oudtshoorn word deur sensei Avril Maarman afgerig.

Maarman sê sy rig Lleythan al af van hy ’n tjokkertjie is. “Hy is baie toegewydheid en werk hard. Hy het die potensiaal om hoë hoogtes in karate te bereik,” sê sy.

Lleyton het in 2016 ’n junior swartbelt verwerf.  Maarman sê hy tel tans onder Suid-Afrika se ses beste karatekas in sy afdeling.

Hy vertel Maarman het hom veral in die tegniese aspekte van karate gehelp. “Ons het ure lank op verskeie aspekte van die sport gefokus. Ek pluk vandag die vrugte van ons albei se harde werk.   Dit is regtig ’n wonderlike gevoel om te weet dat jy nasionale kleure verwerf het in ’n sportsoort waarvoor jy lief is,” sê hy.

Lleyton het nog groot toekomsdrome. “Ek wil eendag die nommer een karateka op die kontinent in kumuti-gevegkuns wees!”

Hy werk reeds daaraan om volgende jaar in Europa aan die wêreldkampioenskap deel te neem.

Dié veelsydige sportman, wat ook in hokkie en krieket uitblink, gaan egter eers in September in Egipte as lid van ’n hokkie-uitnodiging-span meeding!