Llewellyn Coetzee verkies tot president van Wes-Kaap Swem

Llewellyn Coetzee wat tot president van Wes-Kaap Swem verkies is. (Foto verskaf.)

Deur Higgo Jacobs
Llewellyn Coetzee, president van Eden Swem, is tydens die algemene jaarvergadering van Wes-Kaap Swem op Sondag, 4 Augustus, tot president van dié sportorganisasie verkies.

Coetzee se betrokkenheid by swem is volgens hom te danke aan sy dogter, Jada, wat van jongs af baie in swem as sportsoort belanggestel het en talent getoon het. Jada is ’n veelsydige sportvrou wat nie net in die swembad presteer nie, maar onder meer ook as trompoppieleier.

Volgens Coetzee, wrnde direkteur: strategiese dienste by die Oudtshoorn Munisipaliteit, is swem ’n gesinsport en is dit onafwendbaar dat ouers op die een of ander manier betrokke raak.

“Van bloot hand bysit in organisering van groot galas op Oudtshoorn is ek later gevra om op klubvlak in komitees te dien en later op streeks- en provinsiale vlak.

“Die liefde vir en belangstelling in swem het dus gegroei soos Jada se deelname gevorder het.”
Coetzee is versigtig om onrealistiese doelwitte te stel en vertrou hy dat die Wes-Kaapse bestuur gedurende ’n strategiese sessie volgende week die nodige doelwitte sal stel.

“My visie is om dié sportsoort te bevorder binne alle gemeenskappe, maar spesifiek in gemeenskappe wat te min of nooit aan swem as sportsoort blootgestel is nie. Dit is een van my strewes om swem meer inklusief te maak.

“Die fokus sal ook wees om atlete van die Wes-Kaap te ontwikkel dat hulle ons land internasionaal kan verteenwoordig, en om hulle voor te berei vir die Olympiese Spele volgende jaar.”

Dit is ook Coetzee se doelwit om waterveiligheid te bevorder en seker te maak dat leerders toegang tot swemgeriewe het.

Sameweking met skole is ook baie belangrik, het Coetzee gesê.