Juniors en seniors beïndruk op die veld

Foto: Granwille Goliath

Hierdie naweek het beide die juniors en seniors van die klub hul staal gewys met uitstekende vertonings op die sokkerveld. Die juniors het behoorlik die veld aan die brand gespeel en gewys dat die toekoms van die klub in goeie hande is, terwyl die seniors met vasberadenheid en ervaring hul merk gemaak het.

In die senior afdeling het Infantry School FC twee sterk wedstryde gespeel. In hul eerste kragmeting teen NMU het die span in ’n taai en mededingende wedstryd ’n 3–3 gelykopuitslag behaal. Albei spanne het aanvallende sokker gespeel en tot die eindfluitjie hard baklei vir die oorhand. Dit was ’n wedstryd vol intensiteit en karakter.

In hul tweede wedstryd het Infantry School FC met 4–2 geseëvier teen Black Cats FC. Die span het met selfvertroue gespeel, hul kanse goed benut en goeie samewerking op die veld getoon. Die oorwinning was welverdiend en getuig van die span se harde werk en voorbereiding.

Die juniors het intussen by die Bongulethu Stadion hul teenstanders behoorlik ore aangesit. Die o. 11-span het ’n indrukwekkende 4–1 oorwinning teen Atletico FC behaal, terwyl die o. 13’s met 3–1 geseëvier het. Die o. 17-span het ook hul deel gedoen met ’n nou maar verdienstelike 1–0 oorwinning.

Met drie oorwinnings uit drie wedstryde het die juniors gewys dat dissipline, toewyding en spanwerk vrugte afwerp.

Die klub kan trots wees op al sy spelers, afrigters en ondersteuners wie se harde werk en ondersteuning duidelik sigbaar is in die resultate. Die toekoms lyk belowend terwyl die klub sterk van onder af bou. (GRANWILLE GOLIATH)