Die jaarlikse Oudtshoorn Munisipale Sportfees skop hierdie naweek af en beloof om weer sportliefhebbers van regoor die streek en land na die Klein Karoo te lok.
Die feesprogram strek oor byna twee maande en sluit verskeie sportkodes in wat deelnemers van alle ouderdomme die geleentheid bied om hul talente ten toon te stel.
Die fees begin op 12 en 13 Junie met die Southern Provinces Rugbytoernooi, wat as deel van die o.13 Cravenweek-kompetisie aangebied word. Wedstryde vind plaas op Vrydag van 13:00 tot 17:00 en Saterdag van 10:00 tot 18:00. Jong rugbyspelers van verskillende provinsies sal hier meeding om hul plek onder die land se beste spelers te bevestig.
Op 20 Junie skuif die fokus na die Showgrounds Country Club waar die Oudtshoorn Darts Ope Provinsiale Kompetisie van 10:00 tot 17:00 aangebied word.
’n Week later, op 27 Junie, word die Dominoes-kompetisie by die Thusong-sentrum aangebied, terwyl die Eden Skopbokskampioenskap dieselfde dag by die De Jager Sportkompleks plaasvind.
Sokkerliefhebbers kan uitsien na die SAFA LFA o. 13 Sokkertoernooi op 4 Julie by die Dysselsdorp-sportterrein.
Op 11 Julie sal motorsport-entoesiaste hul oë op die De Jager Ovaalbaan vestig waar die Nasionale RGR Klein Karoo Ovaalbaankampioenskap van 13:00 tot 23:00 aangebied word.
Van 15 tot 17 Julie bied Oudtshoorn die SA Nasionale Jeugfietsrykampioenskappe aan, met verskeie venues wat vir die byeenkoms gebruik sal word.
Die sportfees word afgesluit met die Interprovinsiale Rolbal Driekamp-toernooi wat van 31 Julie tot 1 Augustus by die Oudtshoorn Rolbalklub plaasvind.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit nooi inwoners en besoekers uit om die verskillende byeenkomste by te woon en die deelnemers te ondersteun.
Die sportfees dra nie net by tot sportontwikkeling nie, maar bevorder ook toerisme en ekonomiese groei in die streek. (GRANWILLE GOLIATH)
Jaarlikse Oudtshoorn Munisipale Sportfees skop af met propvol program
