Highgate Interprovinsiaal bring aksie na Oudtshoorn

’n Toneel uit ’n vorige Highgate Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms waar die baanitem by die De Jager Sportkompleks gehou is, nes dit vanjaar sal plaasvind.. Atlete van so jonk as sewe jaar het deelgeneem. (Foto verskaf)

DIE 30ste Highgate Interprovinsiale Tweekampbyeenkoms vind Vrydag en Saterdag, 4 en 5 Februarie, op Oudts-hoorn plaas, en wat dit nog meer geskiedkundig maak, is die feit dat die struktuur van tweekamp in Suid-Afrika ná baie jare hernuwe is om aan internasionale standaarde te voldoen!

Dié byeenkoms, aangebied in samewerking met die Wes-Kaapse Departement Kultuursake en Sport (DKS), is die eerste interprovinsiale byeenkoms wat aan die nuwe standaarde gaan voldoen.

Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Tweekamp, beteken dit in effek dat alle wenners dus SA rekordhouers gaan word.

Die organiseerders vanjaar, Eden en WP Tweekamp, is volgens Van der Walt besonder bevoorreg om as gaste die Wes-Kaapse DKS Minister, Anroux Marais, asook die Groter Oudtshoorn se burgermeester, Chad Louw, by die byeenkoms te kan verwelkom. Hy sê dat Blackie Swart, SA Tweekamppresident, ook die byeenkoms gaan bywoon.

Buiten die opwinding van die swem- en hardloopitems, sê Van der Walt, is nog ’n aspek van die naweek wat geskiedenis sal maak die amptelike opening van die SA Tweekamp Museum Vrydagaand op Highgate Volstruisplaas.

“Dit is die eerste in sy soort en die feit dat SA Tweekamp die Highgate Volstruisplaas gekies het om dit te huisves, spreek boekdele oor die betrokkenheid van Highgate en sy eienaars oor byna 30 jaar!” sê Van der Walt.

Sewe van Suid-Afrika se top tweekampprovinsies: WP, Boland, OP, Eden, Suid-Vrystaat, GW en Grens neem volgens Van der Walt deel aan die skouspel. Hy voeg by dat van die land se top-atlete en huidige SA kampioene onder die 435 ingeskrewe atlete tel.

Hulle is, per provinsie: WP se Tatiana Thomatos, Shimone van der Merwe, Mila Aucamp, Lize-Ann Aucamp, Marille Bass, Joshua Scott, Roger Bezuidenhout en Michael Archer; OP se Mia Prinsloo, Jenna Coetzee, Connor Bagley, Matthew van Coller en Anke Serfontein; Eden se Johan Windt, Mike McDonald, Tanya Osborne, Calan du Plessis, Esrie Bezuidenhout en Marilyn Orren; Grens se Micheal Forbes; Suid-Vrystaat se Archie Markgraaff; Boland se Mariaan Malan, Ilse Beukman, Liezel Wessels, Gareth Haarhoff, Niel Naudé, Dieter Naudé, Coenie Slabbert, Karlien Kotze, Jordaan Stemmet en Daniel Schaefer.

Van der Walt sê atlete van die ouderdomsgroepe o.8 tot 70+ gaan aan dié gesogte gesinsport deelneem. Toegang is gratis en daar sal voldoende kos- en ander stalletjies wees, sê hy.

Vrydagaand, vind die spanbestuurders­vergadering op Highgate plaas waarna die amptelike opening van die SA Tweekamp Museum sal plaasvind.

Saterdagoggend begin die byeenkoms om 08:00 op die De Jager Sportkompleks se tartanbaan, waarna dit oorskuif van die NA Smit Swembad vir die swemitems.

Die aand, om 16:30, is die Gala-aand aan die beurt waar die prysuitdeling, sokkie en tradisionele braai plaasvind.