Gino droom van internasionale deelname

Gino Nortjé (18) in aksie by die Southern Cape Strongman Classic.

VIR die 18-jarige Gino Nortjé lê daar groot opwinding voor wanneer hy op 5 en 6 Desember aan die Africa’s Strongest Man 2020-kompetisie in Rustenburg gaan deelneem.

Gino het homself en ander verras toe hy by die Southern Cape Strongman Classic in Oktober in Mosselbaai 320 kg in die “silver dollar dead lift’opgetel het.

Hy het ten tye van die kompetisie 85,7 kg geweeg.

Hy was die jongste en ligste atleet by die byeenkoms en gaan op grond van dié prestasie aan die Rustenburg-kompetisie deelneem. Hy sê dié prestasie het ook aan hom ’n Suid-Afrikaanse rekord besorg.

“As ek goed doen in Rustenburg hoop ek ek sal vir internasionale deelname gekies word.”

Gino, wat op George skoolgegaan het, sê sy ma, Sandra Snyman van Oudtshoorn, is sy grootste inspirasie en ondersteuner.

Hy geniet die dissipline en gimnasiumwerk wat mens moet doen as jy aan kompetisies wil deelneem, maar vertel wat die moeilikste is, is dat hy elke dag regtig baie kalorieë moet eet! (Deur Liesel le Roux)