Gholfspelers vereer Nolan Dreyer

’n Groep gholfspelers van Oudtshoorn het Saterdagoggend ’n erewag gevorm en gebid ter nagedagtenis aan dr Nolan Dreyer voordat hulle by die Oudtshoorn Gholfbaan afgeslaan het vir die gholfklub se maandelikse vleisgholfdag (enkelstableford). Dreyer is Donderdag, 10 September, oorlede nadat hy Covid-19 opgedoen het en lank siek was. Sestig spelers het aan die vleisdag deelgeneem wat die eerste is wat plaasgevind het sedert die Covid-19-inperking begin het. William Phillipus het die dag met ’n telling van 40 gewen, en hy het ook ’n spogtwee op die tiende putjie behaal wat vir hom die boerpot verseker het. Daniël Boks (39 punte) was tweede met André Plaatjies op ’n uittel derde. (Foto verskaf.)