
Ettiene Plaatjies (middel) wat Saterdag die mansafdeling van die Meiringspoort 19,5 km-wedloop in 1:19:35 gewen het. John April (links) was tweede en Hendry Olivier derde. Foto: Ben du Preez

Anderson Ncube (middel) wat Saterdag die mansafdeling van die Meiringspoort 9,5 km-veldwedloop in 37:19 gewen het. Gershwill Jacobs (links) was tweede en Francois Maquassa derde. Foto: Ben du Preez

Jan-Paul Gerber (regs) wat die 60 km-bergfietsren gewen het, en Marchall Hendriks, wat tweede was. Foto: Ben du Preez

Charlissa Schultz (regs) wat die 31 km-ren vir die tweede jaar ná mekaar gewen het, en Karla Stumpf wat tweede was.
Foto: Ben du Preez
Deur Ben du Preez
DIE Meiringspoort Veldwedloop- en Bergfietsbyeenkoms, wat Saterdag die vierde jaar plaasgevind het, het ’n gesonde groei getoon met sowat 200 meer deelnemers as verlede jaar.
Wat die byeenkoms uitsonderlik maak, is die gesellige atmosfeer wat geheers het by NG Kerkterrein op De Rust waar al die hardloop- en fietsry-items begin en geëindig het.
Vuurkonkas oral op die terrein het die koue help verdryf vir al die deelnemers en toeskouers wat daar was.
Die NG gemeente het ook gesorg vir heelike lekkernye soos pannekoek, kerrie en rys, roosterkoek, boerewors, nagereg asook tee en koffie.
Vir die veldlope het 462 atlete opgedaag en vir die fietsry 240 ryers. Die deelnemers het van sover as Durbanville in die Kaap gekom het.
Die roetes vir die bergfietswedrenne oor 60 km en 31 km het oor sowat tien plase gekronkel.
Deelnemers van Oudtshoorn het die bergfietswedren oor 60 km oorheers met Jan-Paul Gerber eerste oor die wenstreep in 02:22:22. Marchall Hendriks, wat tweede was, het sowat 9 min later klaargemaak. Gerber het ook die 60 km-renne by die onlangse Ostrich Crawl- en Redstone Hillsbergfietsbyeenkomste gewen.
Heather van Geesselen van Durbanville het die vroue-afdeling van die 60km-ren in 03:06:33 gewen met Vera Reynolds van Grootbrak tweede in 03:19:33.
Benino Heyns (01:04:46) het die 31 km-bergfietsren gewen met Shaun Tanner (01:04:47) tweede.
Charlissa Schultz (01:10:48) was die tweede jaar agtereenvolgens die vrouewenner van die 31 km-ren. Karla Stumpf (01:12:24) was tweede.
Die veldwedlope het oor die plase van Barry Meijer en Pieter Schoeman deur pragtige natuurskoon en aalwyne in blom gekronkel.
Ettiene Plaatjies het die wedloop oor 19,5 km in 01:19:35 gewen met John April (01:27:35) tweede en Hendry Olivier (01:32:31) derde. Al drie is van Oudtshoorn.
Melissa van Rensburg (01:42:24) was die vrouewenner oor dié afstand. Andrea Ranger (01:43:38) was tweede en Anel van Wyk (01:44:43) derde.
Anderson Ncube (00:37:19), Gershwill Jacobs (00:37:51) en Francois Maquassa (00:38:25), al drie van Oudtshoorn, was die eerste drie mans oor die wenstreep in die 9,5 km-veldwedloop. Rebecca Swanepoel (00:-51:38), was die eerste vrou oor dié afstand, met Megan van der Berg (00:53:02) tweede en Theresa Bester (00:53:08) derde.
Ettiene Plaatjies en Melissa van Rensburg is as onderskeidelik die Koning en Koningin van die Berge aangewys nadat hul die beste gevaar het teen die langste en steilste opdraand op die roete. Hulle het elkeen ’n spesiaal ontwerpte T-hemp, geskenk deur Barry Meijer, ontvang.
Pieter Schoeman, lid van die reëlingskomitee, het aan die einde van die verrigtinge almal bedank wat hard gewerk het om die dag ’n sukses te maak. Hy het gesê met dié dag is beoog om ’n dag van sport, sports en ontspanning vir die hele gesin te bied waar mense die gasvryheid van die platteland kan ervaar.