Wilfred Matthews.
Deur Garnett Wicomb
’N BEKENDE en geliefde oud-onderwyser van Bridgton Senior Sekondêre Skool (BSS) en krieket- speler van Western Hope en die SWD, Wilfred Matthews, is verlede Donderdag in die Bay View Hospitaal op Mosselbaai oorlede.
Matthews (62) is na ’n paar dae in die MediClinic Klein Karoo oorgeplaas na Bay View waar hy volgens sy vrou, Norma, na ’n week aan ’n boedklont gesterf het.
Matthews is ’n boorling van Oudtshoorn. Hy het aan die Hoërskool Môrester gematrikuleer en het sy onderwysopleiding aan die Opleidingskollege Suid-Kaapland (OKSK) ontvang.
Hy het sy onderwysloopbaan in 1977 op Dysselsdorp begin.
Die volgende jaar is hy aangestel by die destydse Bridgton Junior Sekondêre Skool (BJS), wat later BSS geword het.
Pa Matt, soos hy by sy leerders bekend gestaan het, was ’n Aardrykskunde- en later Besigheidstudies-onderwyser.
Hy het in 2014 na 38 jaar in die onderwys die tuig neergelê.
Hy was in die sewentiger- en tagtigerjare as veelsydige speler ’n staatmaker in die span van die Western Hope Krieketklub en die SWD, sê Simon Swigelaar, voormalige president en tans lewenslange ere-president van die SWD Krieketraad.
Volgens Swigelaar, het Matthews ook ’n tyd lank op die bestuur van SWD Krieket gedien.
Hy was ook ’n ywerige gholfspeler en lid van die Oudtshoorn Gholfklub.
Hy word oorleef deur sy eggenote, drie kinders, Gillian, Rory en Audra, twee kleinkinders, sy moeder, Rachel, en twee broers, Greg en Eaton.
Sy begrafnisdiens word Saterdagmiddag om 14:00 in die Rooms Katolieke Katedraal in St Saviourstraat op Oudtshoorn gehou.
Die huisdiens te Malgasstraat 39, Colridge View-Oos begin om 11:00.