Fourie en Tamaré skuur skouers met bekendes op die Wimbledon in Londen!

Bo: Tamaré Stewart en Fourie Delport tydens hul “Capping” seremonie, in hul SA-skole-kleure. Foto verskaf Onder: Fourie Delport en Tamaré Stewart neem ’n “selfie” saam met die be-kende tennisafrigter, Patrick Mouratoglou. Foto verskaf

Fourie Delport (14) en Tamaré Stewart (15), albei leerders van Langenhoven Gimnasium, is pas terug van Londen, Engeland.

Hulle was deel van die SA Skole tennisspan, wat vanaf 4-11 Julie 2025 in Londen gaan toer het.

Beide het by Wimbledon skouers geskuur met bekendes en legendes in die tenniswêreld, soos die beroemde tennisafrigter, Patrick Mouratoglou wat onder andere Serena Williams afgerig het.

Hulle het ook vir Carlos Alcaraz, die wêreld nommer 2 tennisspeler van Spanje en ook Aryna Sabalenka, die wêreld se nommer 1 tennisspeler ontmoet. Daar het hulle ook vir Iga Świątek, vroue-enkelspelwenner van Pole raakgeloop, om maar net ’n paar te noem.

Vir beide was hierdie ’n ongelooflike ervaring, waar hulle op klei- en harde bane gespeel het. Hulle kon ook Carlos Alcaraz se wedstryd teen Jannik Sinner op Wimbledon se hoof baan kyk. Beide vertel dat die atmosfeer gesorg het vir hoendervleis-oomblikke!

“Ek is ongelooflik trots op hierdie twee jong begaafde spelers. Hulle maak my opgewonde vir die toekoms, en dis lekker om te sien hoe hulle harde werk beloon word,” sê Pieter Van der Walt.

Albei word deur Van der Walt, van Totally Tennis op Oudtshoorn afgerig. (ANGELIQUE ERASMUS)