DIE Eden Sportraad se sporttoekkennings vir 2018 vind op Vrydagaand, 27 Julie, in Oudtshoorn plaas en belowe om weer eens ’n glansgeleentheid te wees.
Ashwin Willemse, oud-Springbok-rugbyspeler en sportkommentator, sal die gasspreker wees en Eden FM sal die verrigtinge regstreeks uitsaai.
’n Rekordgetal van 191 benoemings is van 30 sportfederasies vir die 31 kategorieë ontvang.
Sportprestasies tussen 1 September 2017 en 22 Junie 2018 word in ag geneem. Die wenners van die kategorieë wat in ooreenstemming is met dié van die Wes-Kaap, word outomatiese finaliste vir die Wes-Kaapse Sporttoekennings wat op 25 Augustus 2018 plaasvind.
Alle sportfederasies, munisipale sportrade en skole in die Eden Distrik is genooi om hul topsportmanne en -vroue, afrigters en administrateurs te benoem.
Talle topprestasies deur sportmanne en -vroue in die Eden Distrik is in die verlede gelewer waarvoor hulle vereer is.
Sportsoorte sluit die hele spektrum in, soos gholf, fietsry, rygby, netbal, rolbal, toutrek, krieket en seiljag, om maar enkeles te noem.
Vir enige verdere inligting kan Rudi Claassen, voorsitter van die reëlingskomitee, gekontak word by 0835004877 of rudolphclaassen9@gmail.com, Dave van der Walt, sekretaris, by 0827734901, of Dirk van der Westhuizen by 0442726165 of sportcouncil.eden@gmail.com.