Eden Tweekampseisoen sluit op hoë noot, SA rekords spat

AL het die tweekampseisoen in Eden gely onder die Covid-19-pandemie, het dit steeds op ’n hoë noot geïndig en is selfs twee SA rekords tydens die onlangse kampioenskap verbeter.

Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden Tweekamp, het hierdie sportkode veral ’n terugslag ondervind ná die “pandemonium” wat Covid-19 in sport teweeg gebring het.

“Die afgelope jaar is twee SA Kampioenskappe, wat albei vir Oudtshoorn geskeduleer was, gekanselleer, en het die 2021-seisoen in ’n laat stadium die groen lig gekry. “ ’n Verkorte ­ligaprogram moes gevolg word, en die seisoen het dan ook later geëindig as gewoonlik,” het Van der Walt gesê.

Volgens hom is die Eden Kampioenskap op 6 April onder streng Covid-19-protokol op Oudtshoorn aangebied.
Van der Walt het gesê dat nie minder nie as 120 atlete dit bygewoon het, selfs atlete uit die Boland en WP. “Die hoogtepunt was sekerlik die twee SA rekords wat verbeter is!”

Thomas van der Merwe van Paarl Gimnasium Laerskool het die seuns o.11-rekord verbeter na 2459 punte, terwyl Eden se eie dr Mike McDonald van George die SA rekord vir Senior Mees-ters Mans (70+) verbeter het na 2414 punte. “Baie geluk aan albei hierdie topatlete!”

Medaljes is ná die kampioenskap na die onderskeie klubs en skole gestuur om intern te oorhandig aangesien medaljeparades nie volgens Covid-19-regulasies mag plaasvind nie.