Oudtshoorniete kraai koning by bergfietsren

Van links is Bradley Nace (tweede), Ashwill Koopman (eerste), en Ranaldo Plaatjies (derde) van die Oudtshoorn Fietsryklub met die klub se ontwikkelingsbeampte, Corné Serfontein. Die drie 17-jariges het die Meiringspoort-bergfietsrit oor 31 km gedomineer. Foto: Brende Brits

DRIE jong Oudtshoorniete het Saterdag (22 Mei) skoonskip gemaak in die strawwe Meiringspoort-bergfietsrit oor 31 km en die eerste, tweede en derde plek ingepalm!

Die drie 17-jariges, Ashwill Koopman (eerste), Bradley Nace (tweede) en Ranaldo Plaatjies (derde,) van die Oudtshoorn Fietsryklub het nie net deelgeneem om te wen nie, maar ook vir die genot wat deelname bring.

Koopman het met ’n tyd van 1:15:17 oor die wenstreep gejaag, Nace in ’n tyd van 1:15:28 en Plaatjies in ’n tyd van 1:15:29.

Die uitmergelende 61.5 km-bergfietsren is nes die korter fietsren oorheers deur Oudtshoorniete.

Pierre Terblanche (GearUP) was eerste oor die wenstreep in 2:47:19, Johan Neethling (Gear-UP) tweede in 2:49:32 en Jowana Okkers (Oudtshoorn Fietsryklub) derde in 2:50:58.

Volgens Terblanche het die nat modderige toe­stande vir ’n uitdagende bergfietsren gesorg. “Wat my gehelp het, is dat ek regtig lank en hard tydens die Covid-19-pandemie geoefen het. Ek het so gereeld moontlik soggens voor werk geoefen en weer smiddae,” het hy gesê.

Neethling vertel dat die drie van hulle die grootste deel van die wedloop voor was. “Pierre was uiteindelik die sterker ryer. Toe hy ná sowat 55 km sy pas versnel het, kon ons nie meer bybly nie.”

Die vrouefietsren was ’n familie-aangeleentheid. Die wedrenorganiseerder, Henkie du Plessis, het die roete beplan en met die boere geskakel oor die verwydering van heinings.

Die geleentheid het as ‘t ware ’n gemeenskaps­projek geword. Die meeste boere het Saterdag gehelp om te verseker dat die veldfietsren vir die deelnemers ’n onvergeetlike ervaring was.

Du Plessis se dogter, Lisa, het die vrouewedloop gewen. Sy het haar oorwinning aan haar pa toegeskryf. “Ek het nie verwag om te wen nie. Dit is ’n pragtige roete wat uitdagende opdraandes insluit. Die afdraandes het vir die swaarkry opgemaak,” vertel sy.

Volgens Du Plessis was dit danksy haar pa dat fietsry vir haar ’n passie geraak het.

’n Egpaar van Port Elizabeth, Pieter en Annemarie Herbst, het op ’n “Tandem eBike” deelgeneem. By navraag oor hoe die vennootskap op die fiets werk, het Pieter gesê “die vrou moet weet wanneer om stil te wees”, met Annemarie wat byvoeg dat dit oor geduld gaan en om nie ontsteld te raak oor die man se besluite nie.

• Die drie wenners van die 31 km-bergfietsrit se prestasie kan nie net toegeskryf word aan hul deursettingsvermoë nie, maar ook deur die ondersteuning van die Oudtshoorn Fietsryklub.

Corné Serfontein, die klub se ontwikkelingsbeampte, vertel die klub het besluit om dit daarvoor te beywer dat meer kinders aan fietsry deelneem, “want dit is ’n manier om hulle konstruktief besig te hou.

“Daar is baie talentvolle jong fietsryers wat nie hul ware potensiaal sou kon verwesenlik het nie as hulle nie ondersteuning en leiding gekry het nie.

“Die Cycle Addict Bicycle Shop het ’n paar goeie bergfietse geskenk waarmee die fietsryers elke middag ná skool kon oefen. Sondae ry ons ver.

“Daarna help ek dat die jong ryers bybly met hul skoolwerk,” vertel Serfontein.

Sy sê hulle herhinner dié tieners voortdurend daaraan dat om kampioen te wees nie net afhang van hoeveel potensiaal as fietsryer jy het nie.

“ ’n Ware wenner werk hard en is gedissipli-neerd in elke opsig van die lewe. Dit beteken dat jy skool toe gaan, huiswerk doen en respek vir ander het. Stiptelikheid is deel van dissipline. As ’n oefensessie om 15:00 begin, kom jy nie 15:01 daar aan nie. As jy dit doen, ry jy nie,” het sy gesê.

• Inligting vir die berig verskaf deur Wilhelm de Swardt uit De Rust.