Eden se jong tennisspelers het gedurende die naweek van 6 tot 8 November 2026 hul talent en sportmanskap op die tennisbane ten toon gestel tydens die Interdistrikte Tennistoernooi. Altesaam 12 spelers het Eden met trots by dié gesogte toernooi verteenwoordig en uitstekende prestasies gelewer.
Die spelers het kragte gemeet teen sterk spanne van Wynland, Platteland en Drakenstein. Dit was ’n naweek vol opwindende wedstryde, goeie mededinging en uitdagings wat die jong spelers se vaardighede en deursettingsvermoë op die proef gestel het.
Die verskillende ouderdomsgroepe het op verskeie dorpe in die Wes-Kaap deelgeneem.
Die o. 10-spanne het hul wedstryde in Moorreesburg gespeel, terwyl die o. 11-spanne in Ceres, die o. 12-spanne in Hermanus en die o. 13-spanne in Robertson meegeding het.
Gedurende die toernooi het die spelers aan enkelspel-, dubbelspel- en gemengde dubbelspelwedstryde deelgeneem. Elke speler het sy of haar beste gelewer en gewys dat Eden oor besonderse jong tennista-lent beskik.
Die wedstryde het nie net goeie tennis opgelewer nie, maar ook aan die spelers waardevolle blootstelling en ervaring op interprovinsiale vlak gebied. Aan die einde van die strawwe naweek kon Eden met trots terugkyk op die span se uitstekende uitslae.
Die o. 13-span het besonder goed gevaar deur ’n indrukwekkende eerste plek te behaal. Die o.10-span het ’n welverdiende tweede plek ingepalm, terwyl die o. 12-span derde geëindig het. Die o. 11-span het ook sterk meegeding en ’n vierde plek behaal.
Met hierdie uitslae het Eden daarin geslaag om algeheel tweede by die toernooi te eindig – ’n besonderse prestasie waarop al die spelers, afrigters en ondersteuners baie trots kan wees. Die sukses van die naweek is ’n bewys van die spelers se harde werk, toewyding en liefde vir die sport.
Dit is ook ’n mooi aanduiding van die goeie werk wat agter die skerms deur afrigters en ondersteuners gedoen word.
Baie geluk aan al 12 spelers wat Eden so uitstekend verteenwoordig het. Julle het gewys dat ware sportmanskap, spanwerk en deursettingsvermoë vrugte afwerp. Eden is trots op julle! (GRANWILLE GOLIATH)
Eden-tennisspelers blink uit tydens Interdistrikte toernooi
Foto verskaf
Be the first to comment on "Eden-tennisspelers blink uit tydens Interdistrikte toernooi"