Sacred Heart Primêre Skool het hierdie krieketseisoen gewys dat harde werk, goeie afrigting en spanwerk die resep vir sukses is.
Die skool se krieketspanne het ’n besonderse seisoen beleef en kon daarin slaag om onoorwonne te bly – ’n prestasie waarop die hele Hearties-gemeenskap met reg trots kan wees!
Die spelers het deur die seisoen hul talent, deursettingsvermoë en liefde vir die spel ten toon gestel.
Een van die jongste hoogtepunte was hul wedstryd teen Laerskool Laurus, waar die Hearties ondanks die bloedige hitte daarin geslaag het om nog ’n oorwinning by te voeg.
Die spelers het gewys dat hulle nie maklik terugstaan nie en met vasberadenheid tot die einde toe aangehou speel. Agter hierdie sukses staan ’n toegewyde span bestuurders en afrigters wat ’n belangrike rol in die spelers se ontwikkeling speel.
Hulle leer nie net die leerders die nodige kriekettegnieke aan nie, maar help ook om belangrike waardes soos dissipline, spanwerk, respek en sportmanskap te ontwikkel.
Die sukses van hierdie seisoen is ’n bewys van wat bereik kan word wanneer spelers en afrigters saamwerk met ’n gemeenskaplike doelwit.
Baie geluk aan al die Sacred Heart-krieketspelers met hierdie uitstekende prestasie. Hou die goeie werk so vol! (GRANWILLE GOLIATH)
Sacred Heart Primêr se krieketspanne blink uit met onoorwonne seisoen
Foto verskaf
Be the first to comment on "Sacred Heart Primêr se krieketspanne blink uit met onoorwonne seisoen"