Wesbank-atlete blink uit tydens Blitsdruk Interskole-atletiekbyeenkoms

Foto verskaf

Laerskool Wesbank se atlete het Saterdag, 7 November 2026, uitstekend presteer tydens die Blitsdruk Interskole-atletiekbyeenkoms wat deur Laerskool Outeniqua aangebied is.

Altesaam tien skole het aan die byeenkoms deelgeneem, waar Wesbank se jong atlete gewys het dat harde werk, toewyding en deursettingsvermoë goeie resultate oplewer.

Een van die hoogtepunte van die dag was Helena Lourens se besonderse prestasie. Sy het nie net goud in die 1 200 m verower nie, maar ook ’n nuwe rekord in dié item opgestel. Sy het verder brons in die 100 m en silwer in die 150 m behaal.

Die o. 10-atlete het verskeie medaljes ingepalm. Gerrit Marincowitz het goud in hoogspring verower, terwyl Bea Bence goud in die 80 m en silwer in die 100 m behaal het. JJ Botha, Manus Potgieter, Abby Smit, Mari Lourens en Libby Swanepoel het ook met medaljes weggestap.

In die o. 11-afdeling het Lynné Lind brons in gewigstoot verower, terwyl Nicolaas Maritz brons in beide die 80 m en 100 m behaal het.

Die o. 12-atlete het ook hul staal gewys. Jean Botha het silwer in die 1 200 m verower en Andries van Wyk brons in gewigstoot.
Helena se rekordprestasie was die groot hoogtepunt van hierdie ouderdomsgroep.

By die o. 13 het Jaiden Simon silwer in die 800 m behaal, terwyl Eduan Visser silwer in beide die 80 m-hekkies en 100 m verower het.

Wesbank se aflosspanne het ook goed gevaar. Die dogtersaflos-span, bestaande uit Bea Bence, Annalé Lategan, Helena Lourens en Alrie Eloff, het brons verower. Die seunsaflosspan, JJ Botha, Nicolaas Maritz, William Nel en Eduan Visser, het eweneens brons behaal.

Baie geluk aan al die atlete en hul afrigters met hierdie uitstekende prestasies. Julle harde werk en sportmanskap maak Laerskool Wesbank baie trots!

Be the first to comment on "Wesbank-atlete blink uit tydens Blitsdruk Interskole-atletiekbyeenkoms"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*