Deur Garnett Wicomb
RANGERS, rugbyspan van Dysselsdorp, het Saterdag in ’n SWD Karoo-streekliga vir Korrektiewe Dienste met 31-19 geklop en daarmee sy tiende sege van die seisoen behaal.
Korrektiewe Dienste het rustyd met 14-12 voorgeloop, maar kon nie juis in die tweede helfte daarop voortbou nie.
Rangers het ná halftyd beter begin speel en hul opponente onder kwaai druk geplaas. Die span het weer vyf drieë gedruk vir ’n bonuspunt.
Donnie Makonie, sterk senter en voorste driedrukker van die span, het twee drieë gedruk. Die ander drieë is gedruk deur Deidre Booysen (senter en kaptein), Eric Campher (agtsteman) en Marcelino Jaftha (haker). Davestine Esau (heelagter) het drie drieë verdoel.
Volgens Arnold Claasen, Rangers se hoofafrigter, was Campher, wat as Speler van die Wedstryd aangewys is, op die aanval, verdediging en in die vastelos ’n doring in die vlees.
In die agterlyn was Esau, Makonie en Booysen die uitblinkers.
• Rangers B het ook ’n bonuspunt- oorwinning behaal, deur DKD se naasbestes met 46-10 te oorrompel.