Christine van Coller

Rida Bester

Elmarie Lategan
Deur Garnett Wicomb
DRIE lede van die Wesbank Tennisklub, Christine van Coller, Rida Bester en Elmarie Lategan, is onder die ses spelers van die Eden Seniors Tennisvereniging wat gekies is vir die SA senior tennisspanne wat later vanjaar in Amerika aan die 2017 Seniors ITF Wêreldspantoernooi gaan deelneem.
Al drie het voorheen nasionale kleure verwerf.
Van Coller en Bester is ingesluit in die SA 50+-vrouespan wat van 29 Oktober tot 3 November in Miami, Florida, speel. Lategan is aangewys as kaptein van die 70+-vrouespan wat van 8 tot 13 Oktober in Lake Nona, Florida, speel.
Debra Hyde, president van die Eden Seniors Tennisvereniging, het die spelers sterkte toegewens. “Hulle is baie opgewonde oor die komende toernooie en die geleentheid om Suid-Afrika in die buiteland te verteenwoordig. Ons is baie trots op hulle. Om ses van ons spelers in nasionale spanne te kry, is ’n besondere veer in die hoed van ’n klein provinsie soos Eden,” het sy gesê.