Die groot vasbyt begin!

* Momentum Health Cape Pioneer Trek aangebied deur Biogen

Alan Hatherly in aksie by 2017 se CPT.

DIE wenner van verlede jaar se Cape Pioneer Trek* (CPT), Alan Hatherly van Suid-Afrika, tree vanjaar weer aan vir dié moordende multiskofbergfietsren wat Sondag op Mosselbaai begin met die proloog en volgende Saterdag op Oudtshoorn eindig.

Sedert Hatherly die 2017 CPT saam met Matthew Beers gewen het, het hy verlede maand ook die o.23-wêreldtitel (cross country) by die UCI Berg­fietswêreldkampioenskap in Switserland gewen.

Interessant is dat Hatherly en Beers vanjaar in verskillende spanne meeding en kwaai mededinging tussen hulle verwag kan word.

Hatherly ry saam met die Deen Simon Andreassen vir die span Spur Spesialized en Beers saam met Nico Bell vir die span NAD MTB.

Ander top internasionale jaers wat vanjaar deelneem, is Manuel Pleim en David Schöeggl van Oostenryk, Robbert de Nijs en

Erik Groen van Nederland, en Gerbon Mos en Tim Smeenge, ook van Nederland. ’n Ou bekende van Oudtshoorn, Matthys Beukes, en sy spanmaat Philip Buys tel ook onder die gunstelinge vir ’n plek op die podium.

Nog Oudtshoorniete wat goed behoort te vaar, is Yolandé de Villiers wat saam met Charles McFall in die gemengde afdeling ry, en Kobus en Fienie Barnard. Ander plaaslike ryers wat gaan deelneem, is Anru de Wet, Henkie du Plessis en Robert du Preez wat al nege CPT’s voltooi het en vanjaar aan sy tiende een deelneem. Dié drie ry individueel.

Die bekende oud-Springboklosskakel, Joel Stransky, wat verlede jaar saam met Yolandé de Villiers gery het, neem ook weer vanjaar deel.

’n Nuwigheid by vanjaar se CPT is die Adventure-afdeling. Pleks van sewe dae, ry deelnemers aan dié afdeling slegs die laaste vier skofte van die CPT. Hoewel hulle saam met die ander deelnemers ry, kom hulle nie in aanmerking vir enige pryse nie.

Hulle ry dus saam bloot vir die ervaring.

Die roete van die CPT, wat uit ’n proloog en ses skofte oor sewe dae bestaan, is altesame 1553 km lank. Sondag se proloog oor 11,5 km begin en eindig by Milkwood Primêr op Mosselbaai.

Maandag se skof 1 oor 96 km begin by Milkwood Primêr. Die roete lei onder meer langs die kuslyn en maak ’n draai deur die Gondwana Na­tuurreservaat met onder meer die Groot Vyf voordat dit weer by die laerskool eindig.

Skof 2 se roete oor 114 km wat klimwerk van 2000 m insluit, begin by Milkwood, volg aanvanklik die kuslyn tot by Hartenbos vanwaar dit met die hange van die Outeniquaberge langs na George lei waar dit by die Van Kervelskool eindig.

Skof 3 oor 31 km begin en eindig by Van Kervel. Die Adventure-deelnemers sluit hier by die CPT aan. Die roete is hoofsaaklik enkelspoorpaadjies wat deur lo­werryke woude langs George lei.

Skof 4 begin by Van Kervel en eindig by Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn. Dié taai skof, wat 115 km lank is en 2100 m klim, se roete sluit die Montagupas, voetpaadjies deur die Herold-omgewing en die Chandelier Volstruis- & Wildplaas in en eindig by die Gimmies.

Skof 5, die taaiste skof van die CPT, begin by Langenhoven Gimnasium en eindig 97 km later aan die bopunt van Swartbergpas.

Die ryers durf dié roete, wat 2700 m klimwerk insluit, met vyf dae se trap in hul bene aan. Die roete maak ’n draai deur Red Stone Hills en verskeie wildplase voordat dit rig­ting kry na die Swartbergpas.

Skof 6, die laaste skof Saterdag, begin weer by die Gimmies. Die roete oor 64km lei deur Chandelier en omgewing voordat voor die Queen’s Hotel in die middel van Oudtshoorn eindig.

Vir meer inligting oor die CPT, soos waar die talle uitkykpunte is, besoek gerus capepioneer.co.za.