Die 49ste SA Tweekampkampioenskappe vind hierdie naweek in Oudtshoorn plaas

Foto verskaf

Die dorp is reeds in feestelike stemming. Altesaam 862 van die land se topatlete uit 14 provinsies sal Saterdag, 21 Maart 2026, meeding om gesogte medaljes en trofeë. Dit is die vierde keer dat Oudtshoorn hierdie nasionale byeenkoms aanbied, wat sy status as ’n voorkeur-venue vir groot sportgeleenthede verder bevestig.

Die kampioenskappe sal hoofsaaklik by die De Jager Sportkompleks aangebied word, met swemitems by die NA Smit Swembad, wat onlangs opgegradeer is met ‘n nuwe dak oor die pawiljoen. Die afsluitingsgeleent-hede vind plaas by die Highgate Volstruisplaas.

Die verrigtinge skop Vrydag, 20 Maart, af met die amptelike opening om 16:00 by die De Jager Sportkompleks. Dit volg ná die spanbestuurdersvergadering om 12:00, asook die neem van spanfoto’s en die tradisionele verbymars van die 14 provinsiale spanne. Daarna sal genooide gaste die Presidentsfunksie bywoon.

Saterdag se program begin reeds vroegoggend om 06:30, met die eerste items wat om 07:00 op die atletiekbaan plaasvind.

Die swemitems volg vanaf 10:00, met ’n tweede sessie later die dag. Die aand word afgesluit met ’n galageleentheid by Highgate Vol-struisplaas, waar meer as 1 000 gaste verwag word vir die prysuitdeling en ’n gesellige braai.

Na raming sal tussen 3 000 en 4 000 toeskouers die byeenkoms bywoon, wat ’n ekonomiese inspuiting van sowat R10 miljoen vir die dorp kan beteken.

Met 140 beamptes van regoor Suid-Afrika wat help organiseer, beloof die kampioenskappe om glad en suksesvol te verloop.