Donovan le Roux, vleuel van Collegians, wat Uniondale se verdedigers laat bontstaan het. Foto: Wyndham Ewerts
Deur Wyndham Ewerts
DIE A-span van Collegians Rugbyklub het Saterdag in ’n SWD Presidentsligawedstryd op die Bridgton Sportgronde Uniondale United A in die doodsnikke van die wedstryd met 18-17 gewen.
Aan die begin van die wedstryd het albei span-ne gesukkel om hul ritme te vind.
Collegians se losskakel, Jason Plaatjies, het nie lank ná die begin van die wedstryd nie die eerste punte met ’n strafdoel aangeteken.
In die eerste helfte was Collegians drie keer op die aanval in Uniondale se kwartgebied, maar het Marvin Prinsloo, haker, nie die bal reguit by die lynstane ingegooi nie en het sy span besit verloor.
Uniondale se heelagter, Michael Ferrendale, het kort voor rustyd met ’n strafdoel die telling drie elk gemaak.
Collegians het die tweede helfde op ’n hoë noot begin toe sy haastige vleuel, Marshall Fortuin, Uniondale se verdedigers laat mis tas om sy span se eerste drie te druk. Roberto Botha, heelagter, het verdoel om die telling op 10-3 te staan te bring.
Uniondale het dadelik teruggeslaan toe die span se vleuel Christopher Barnard, ’n drie gaan druk het. Ferrendale het verdoel.
Met die telling op 10-10 het Botha vir Collegians ’n strafdoel behaal om sy span weer te laat voorloop. Uniondale het laat in die tweede helfde die bal deur verskeie fases behou en is hulle beloon met ’n drie deur Ferrendale. Hy het self verdoel om die telling 17-13 te maak.
Collegians het egter kop gehou. In beseringstyd het die span se voorspelers naby hul teenstanders se doellyn sterk gedryf wat gelei het tot Nägel Cupido, slot, se drie. Met die doelskop wat mis was, het Collegians met ’n skrale punt 18-17 gewen.
Collegians speel Saterdag, 30 Junie, teen All Blacks op die Bridgton Sportgronde.