Collegians se laaste eerbewys aan Guido

DIE A-span van die Collegians Rugbyklub het Saterdagmiddag, nadat hulle die oggend by die oop graf van hul ontslape kaptein, Guido Koert, ge­staan het, hul eweknieë van Spring Roses op die Bridgton Sportgronde (Plate) met 8-3 geklop.

Dit was van die afskop af duidelik dat Collegians met oorgawe gespeel het ter ere van Koert.
Albei spanne het aanval op aanval geloods, maar met hul rotsvaste verdediging het Collegians hul teenstanders die hele wedstryd lank van hul doellyn af weggehou.

Collegians het in die lynstane en skrums beter as Spring Roses gevaar en hul balverspreiding agterlangs was ook beter.

Die enigste drie van die eerste helfte en wedstryd is deur Donald Maksella (agtsteman) gedruk nadat Collegians ná ’n lynstaan naby aan hul teenstanders se doellyn pragtig gedryf het. Die doelskop was mis wat die rustydtelling 5-0 gemaak het.

Albei spanne het in die tweede helfte baie goed verdedig, maar die feit dat geen drie in dié helfte gedruk is nie, is ook te wyte aan swak besluite en onnodige foute.

Roberto Botha, heelagter van Collegians, het in die 20ste minuut van die tweede helfte ’n strafdoel aangeteken ná ongeoorloofde spel deur Spring Roses. Kort daarna het Collegians ook ’n strafdoel aangeteken nadat hulle vir onkantspel gestraf is.