Collegians klop Harlequins

Deur Higgo Jacobs
Collegians het Saterdag in ’n SWD Presidentsligawedstryd op die weermagvelde in Parkstraat, Oudtshoorn, vir Harlequins met 29-10 geklop. Collegians was reeds rustyd 10-0 voor.

Dié derbystryd is in ’n goeie gees gespeel.

Collegians, wat goed gedryf het terwyl hulle balbesit behou, het die eerste punte aangeteken met ’n drie deur hul jong losskakel, Jaso Plaatjies.

Plaatjies, wat self verdoel het, het kort daarna ook ’n strafdoel behaal om al die eerste helfte se punte aan te teken.

Hoewel Harlequins in die tweede helfte beter begin speel het, was dit weer Plaatjies wat dié helfte se eerste punte aangeteken het met ’n onverdoelde drie.

Hierna het Marshall Fortuin en Shedwick Sauls elkeen nog ’n drie vir Collegians gedruk. Plaatjies het een hiervan verdoel.

Harlequins se punte het bestaan uit ’n verdoelde drie en ’n strafdoel.

Collegians het ’n bonuspunt met dié oorwinning verdien. Die span se afrigter, Seppie Ekstraal, was vol lof vir sy span vir hul puik spel.

Plaatjies, wat altesame 21 punte aangeteken het, is as Speler van die Wedstryd aangewys.

Collegians B het Harlequins B met 32-3 geklop.