Deur Garnett Wicomb
DIE A-span van die Bridgton Rugbyklub het Saterdag sy vierde oorwinning agtereenvolgens in die SWD Premierliga behaal deur die Maori’s van Borcherds op George met 22-17 te klop.
Dit was ’n taai stryd met Bridgton wat in die eerste helfte die botoon gevoer het. Die tuisspan het egter in die tweede helfte die oorhand gehad.
Bridgton het draaityd met 19-5 voorgeloop, maar kon in die tweede helfte slegs drie punte met ’n strafdoel byvoeg.
“Ons kon rustyd verder voorgeloop het as dit nie vir swak opsies was nie,” het Keith Meyer, die span se hoofafrigter, gesê. “Ons het oorgenoeg bal-besit gehad, maar weens planloosheid kon die span nie genoeg balbesit in punte omgeskakel het nie.
“Ons basiese spel met afskoppe en ook lynstane was goed terwyl die agttal hul man behoorlik ge-staan en dikwels die opponente in die vaste skrums ver teruggestoot het.”
Volgens Meyer verdien die Maori’s ’n pluimpie deurdat hulle in die tweede helfte alles gegee en puik hardlooprugby gespeel het. “Ons verdedigingslinie was goed, maar weens verbroude duikslae is twee drieë afgestaan,” het hy gesê.
In die vaste los was die lostrio met kaptein Algernon Waarts aan die spits uitstekend.
Ruhall Lewis het sy terugkeer tot die span met ’n puik drie gevier. Sy drie het gevolg op ’n goeie lopie deur die linkervleuel Charlston Ewerts.
Ewerts en Bradwin Wanies (regtervleuel) het Bridgton se twee ander drieë gedruk. Gino van Vuuren (losskakel) het met twee twee doelskoppe en ’n strafdoel geslaag.
• Bridgton B het met 17-0 gewen danksy drieë deur Duzil Avontuur (linkervleuel), Roderick January (skrumskakel) en Anver Venter (senter), en ’n doelskop deur Venter.
• Bridgton speel Saterdag op die Rec teen Crusaders van George.