Met hierdie drie in die doodsnikke van Saterdag se SWD Premierligahalfeindstryd tussen Bridgton en Evergreens het Wesley le Roux (stut) Bridgton se hoop laat opvlam dat hulle nog die wedstryd kan wen. Foto: Ebenezer Titus
Deur Wyndham Ewerts
DIE A-span van die Bridgton Rugbyklub het sy SWD Premierliga halfeinstryd teen Evergreens Saterdag op die Bridgton Sportgronde naelskraap met 22-23 verloor.
Dit was uitendelik die skopskoen van Bridgton se heelagter Anver Venter wat tussen sy span en ’n dramatiese oorwinning gestaan het.
Nadat Wesley le Roux, Bridgton se stut, in die doodsnikke van die wedstryd, met die telling op 17-23 in die besoekers se guns, ’n drie gaan druk het, het die hoop onder Bridgton-ondersteuners opge-vlam dat hul span tog sou deurdring tot die eindstryd. Die doelskop moes net oor.
Venter, wat normaalweg baie goed pale toe korrel, se skop het wel rigting gekry pale toe, maar was te kort.
• Die wedstryd het stadig begin met albei spanne wat mekaar in die eerste 10 minut soos wafferse swaargewigboksers versigtig opgesom het. Dinge het egter vlam gevat toe die tuisspan se senter Ganfried
May mooi gebreek het en in die hoekie gaan druk het vir ’n onverdoelde drie.
Evergreens se losskakel Erwin Harris het kort daarna met ’n strafdoel geslaag.
Goeie skopwerk deur Harris het aan hulle gebiedsvoordeel besorg. In die daaropvolgende spel het Evergreens se vleuel Dwayne Smart ’n aangee onderskep en onder die pale gaan druk.
Harris het verdoel om die telling 10-5 te maak.
Algernon Waarts, kaptein en agtsteman van Bridgton, wat sy span van voor gelei het, het nie lank voor halftyd nie deurgebars vir ’n drie ná volgehoue druk op die besoekers. Venter het verdoel om aan sy span die voortou te laat neem met 12-10. In die tweede helfte het Evergreens met twee vinnige strafdoele weer die voortou geneem.
En toe die besoekers se senter, Dwayde Strydom, boonop ’n verdoelde drie gaan druk het om die telling op 12-23 te staan te bring, kon ’n mens ’n speld hoor val in die volgepakte stadion met dinge wat beroerd vir die tuisspan begin lyk het.
Met 15 minute oor het Bridgton egter ’n terug-vegpoging geloods. Venter het eers gedruk, maar sy skop was mis. Daarna het Le Roux se drie gevolg, en die res is geskiedenis.
• Bridgton B het met 15-17 teen Grootbrak verloor. Josef Saptou (10) en Hershelle America (13) het elk ’n drie gedruk. America was in die kol met een doelskop en ’n strafdoel.
• Bridgton C het ook die spit met 13-15 teen Grootbrak afgebyt. Anrich Daniels (13) het twee drieë gedruk en Thiren Stoffels (10) het ’n strafdoel behaal.