Bridgton struikel in taai eindstryd, maar B en C span hou kop hoog

Foto’s verskaf.

In ’n propvol Outeniqua Park het Bridgton RFC se A-span Saterdag vasgeval teen ’n kliniese Barbarians A-span in die eindstryd van die SWD Superliga A, terwyl die klub se B- en C-spanne darem rede tot viering gehad het met twee naelskraapse oorwinnings.

Die atmosfeer was elektries toe die twee top-spanne mekaar die stryd aansê, maar dit was Barbarians wat van vroeg af hul stempel afgedruk het. Reeds in die 8ste minuut het hulle eerste oorgesteek, en skaars vyf minute later het hulle weer gaan druk om vinnig ’n voorsprong van 14-0 op te bou.

Bridgton het egter nie gaan lê nie en het in die 18de minuut terugge-slaan met ’n goed-afgeronde drie om die telling tot 7-14 te verklein. Teen rustyd het Barbarians steeds die oorhand gehad met die telling 14-7.

In die tweede helfte het Barbarians hul voorsprong verder gerek toe hulle in die 6de minuut ’n strafskop benut het om die telling na 17-7 te neem. Bridgton het kort daarna met ’n strafskop geantwoord en die gaping tot 10-17 verklein, wat hoop onder die ondersteuners laat herleef het.

Ten spyte van hul vasberadenheid kon Bridgton se A-span egter nie die momentum volhou nie, en Barbarians het die wedstryd in die laaste fase beheer om uiteindelik met 32-17 as wenners uit die stryd te tree.

Die klub kan egter trots wees op hul B- en C-spanne wat onderskeidelik hul eindstryde met 20-16 en 20-19 gewen het, wat Bridgton se diepte en veggees duidelik ten toon gestel het.

Alhoewel die A-span teleurgesteld sal wees, bly hierdie seisoen ’n merkwaardige een vir Bridgton RFC, met sterk vertonings regdeur die liga en ’n klub wat steeds groei van krag tot krag. (GRANWILLE GOLIATH)

Be the first to comment on "Bridgton struikel in taai eindstryd, maar B en C span hou kop hoog"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*