Bridgton RFC wen Keanin Esau Memorial Cup twee keer na mekaar

Foto: Granwille Goliath

Die Bridgton RFC het Saterdag hul oorheersing bevestig deur die Keanin Easu Memorial Cup vir die tweede agtereenvolgende jaar te wen.

In ’n indrukwekkende vertoning op die tuisveld van Harlequins RFC het al drie Bridgton-spanne hul teenstanders getroef en daarmee die beker “back to back” ingepalm.

Die Keanin Easu Memorial Cup, wat die afgelope twee jaar tussen hierdie twee trotse klubs beslis word, het weer eens vir opwinding en geesdrif gesorg. Toeskouers is op die punt van hul stoele gehou met vinnige spel, harde duikslae en uitstekende spanpogings deur albei kante.

Die dag het afgeskop met die C-spanne wat mekaar aangepak het. Bridgton se C-span het van vroeg af hul voorneme gewys en met gestruktureerde aanvalle en stewige verdediging beheer oorgeneem. Hulle het uiteindelik met 29–13 geseëvier in ’n wedstryd waarin hul afronding die verskil gemaak het.

Die B-spanne het daarna ’n taai stryd gehad. Beide spanne het mekaar min ruimte gegun en punte was moeilik bekombaar. Dit was ’n fisieke wedstryd waarin verdediging aan die orde van die dag was. Bridgton se B-span het egter koelkop gebly in die beslissende oomblikke en die wedstryd met ’n noue 26–21 gewen.

Die hoogtepunt van die dag was sonder twyfel die kragmeting tussen die A-spanne. Die tempo was vinnig en die intensiteit tasbaar, met albei spanne wat alles in die stryd gewerp het. Bridgton het egter weer hul staal gewys, veral in die tweede helfte, en met dissipline en doelgerigte spel die oorhand gekry. Hulle het die wedstryd met 22–12 beklink en sodoende die beker gewen.

Die rugbygees het hoog geloop en ondersteuners van beide klubs het hul spanne luidkeels aangemoedig. Vir Bridgton RFC is hierdie oorwinning ’n bewys van die klub se diepte en toewyding — ’n prestasie waarop hulle met reg trots kan wees.

Hierdie jaar het Bridgton RFC en Harlequins ’n skenking van R12 000 gemaak aan Keanin Easu se kinders. (GRANWILLE GOLIATH)