Bridgton RFC seëvier met spannende naelskraap oorwinning oor Groot-Brak

Foto verskaf.

Die Bridgton-sportgronde was Saterdag die toneel van opwindende en hoëgehalte-rugby toe Bridgton RFC vir Groot-Brak ontvang het. Onder ideale rugbytoestande is toeskouers deurgaans op die punt van hul sitplekke gehou met vinnige spel, harde verdediging en uitstekende spanwerk.

Bridgton RFC het uiteindelik ’n naelskraapse oorwinning oor Groot-Brak behaal, wat hul posisie boaan die punteleer verder versterk.

Met hierdie uitslae bly Bridgton die voorloper in die liga en bevestig hulle hul status as een van die sterkste spanne in die kompetisie.

Die dag het uitstekend vir die tuisspan begin toe die C-span ’n indrukwekkende vertoning gelewer het.

Hulle het Groot-Brak oortuigend met 33-7 geklop. Bridgton se spelers het van die begin af die tempo bepaal en met gedissiplineerde verdediging en aanvallende spel hul teenstanders min kans gegun.

Die B-span het die goeie momentum voortgesit met ’n verdienstelike 20-14 oorwinning. Albei spanne het hard meegeding, maar Bridgton se vasberadenheid en goeie besluitne-ming op belangrike oomblikke het uiteindelik die verskil gemaak. Die spelers het karakter getoon en hul kanse goed benut om die wedstryd in hul guns te beklink.

Die A-span se wedstryd was die hoogtepunt van die dag. Dit was ’n ware riller waarin albei spanne mekaar deurentyd onder druk geplaas het. Bridgton het soms gesukkel om ritme te vind, maar het nooit moed opgegee nie. Met deursettingsvermoë en goeie spanwerk het hulle daarin geslaag om ’n dramatiese 35-34 oorwinning te behaal. Die wedstryd is eers in die laaste minute beslis, tot groot vreugde van die tuisskare wat hul span luidkeels ondersteun het.

Bridgton RFC se afrigters en ondersteuners kan trots wees op die manier waarop al drie spanne hulself van hul beste kant gewys het. Die klub speel tot dusver rugby van ’n baie hoë standaard en toon week ná week waarom hulle boaan die punteleer staan. Die spelers benut hul geleenthede uitstekend en speel met selfvertroue, dissipline en vasberadenheid.

Indien Bridgton hierdie vorm kan volhou, lyk hulle goed op koers om ’n uiters suksesvolle seisoen af te sluit en hul aanspraak op die liga-titel verder te versterk. (GRANWILLE GOLIATH)