
Gimmies het Saterdag weer bewys dat deursettingsvermoë, spanwerk en trots die kern van ons sportkultuur vorm. Ons leerders het met oorgawe meegeding teen Glenwood House, HTS Eden en Curro Mosselbaai en uitstekende prestasies gelewer.
Hoewel elke wedstryd sy eie uitdagings gebied het, het ons spelers en afrigters met toewyding en ware Gimmie-gees opgetree.
Op die netbalbane was daar verskeie puik oorwinnings. Die o.14B-span het met 16–10 teen Glenwood House se o. 14A-span geseëvier, terwyl die o. 14C-span ’n indrukwekkende 13–1-oorwinning oor HTS Eden A behaal het. Die o. 15C-span het hul wedstryd met 9–6 gewen, en die o. 16C-span het vasberade gespeel om met 14–12 teen HTS Eden se o.16A-span te wen.
Die o.16B-span het met ’n oortuigende 25–9-sege teen Glenwood House afgesluit. Die o. 18C-span het HTS Eden o. 18A met 22–8 geklop, terwyl die o. 18B-span in ’n spannende wedstryd met 27–25 gewen het.
Op die rugbyveld het Gimmies se spanne hul staal gewys. Die o.14B-span het reeds op 24 Julie ’n goeie 25–22-oorwinning teen Hoërskool Môrester behaal. Vandag het die o.14A-span met 40–3 teen HTS Eden geseëvier, en die o. 15A-span het met 27–22 gewen.
Die o. 16A-span het ná ’n harde stryd gelykop met 21–21 geëindig. Die derdespan het alles gegee, maar moes die knie buig met 33–45 teen Glenwood House se o.19A-span. Die tweedes het ’n uitstekende 48–14-oorwinning oor HTS Eden behaal, terwyl die eerstespan die dag met ’n sterk 34–24-sege teen HTS Eden afgesluit het.
Die hokkiespanne het waardevolle wedstrydervaring opgedoen teen sterk teenstanders van Curro Mosselbaai. Die dogters se o. 16B- en o. 19B-spanne het hul wedstryde verloor, maar met vasberadenheid tot die einde toe aangehou speel. By die seuns het die gemengde o. 14- en o. 16B-span ook teen Curro Mosselbaai se o. 16A-span vasgeval.
Die o. 19B-seunspan het egter ’n uitstekende vertoning gelewer en met 5–1 gewen. Die dag se uitslae weerspieël meer as net wen of verloor. Dit getuig van harde werk, toewyding en die trots waarmee elke Gimmie ons skool verteenwoordig.
Ons is besonder trots op elke speler wat sy of haar beste gelewer het, op elke afrigter wat ure se voorbereiding ingesit het, en op elke ondersteuner wat langs die bane en velde aangemoedig het.
Baie geluk aan al ons spanne met hul prestasies. Dankie dat julle die Gimmie-gees met trots uitgeleef het en ons skool se naam hoog gehou het. (GRANWILLE GOLIATH)