Bridgton looi Premierliga-voorlopers

• Groot rugby op Plate

Wayne Julies, woelige agtsteman van Bridgton, duik oor vir sy span se tweede drie. Foto’s: Ebenezer Titus

Wayne Julies, woelige agtsteman van Bridgton, duik oor vir sy span se tweede drie.  Foto’s: Ebenezer Titus

Deur Wyndham Ewerts
DIE A-span van Bridgton Rugbyklub het Sondag  in ’n SWD Premierligawedstryd, wat regstreeks oor SuperSport 1 gebeeldsend is, vir  Progress van George, wat tans die voorloper in die liga is, met 39-32 geklop.

Die wedstryd was deel van die SuperSport Uitdaagtoernooi wat Sondag op die Bridgton Sportgronde (Plate) plaasgevind het en waarin die Pumas en Griekwas mekaar in die eindstryd van die SuperSport-reeks gepak het.

Bridgton het sy oorwinning te danke aan sy ag-terlyn wat Progress se verdediging in die tweede helfte ’n paar keer heeltemal deurmekaar gehardloop het om feitlik onaangeraak te gaan druk.

Maar laat ons voor begin: Die eerste helfte het vir die maroentruie katastrofies begin  toe Progress se vleuel, Faizel Fredericks, binne enkele minute ’n onverdoelde drie gedruk het.

Bridgton was aanvanklik op die agtervoet teen die heelwat swaarder voorspelers van Progress.
Charlton Ewerts, ervare vleuel van Bridgton, het egter teen die verloop van spel meer as 50 meter genael om te gaan druk. Met die doelskop wat mis was, was die telling 5-5.

Metterryd het Bridgton se voorspelers egter momentum gekry en het dit die geleentheid vir Wayne Julies, agtsteman, geskep om onder die pale te gaan druk. Keanan Esau, heelagter, het verdoel.

Net voor halftyd het Progress se vleuel, Clinton Wagman, ’n onderverdoelde drie gedruk om die rustydtelling op 10-12 te staan te bring.

In die tweede helfde het die spel meer los geraak met heelwat hanteerfoute.

In dié omstandighede het Bridgton se snellers gedy en het Bradwin Wanies, vleuel, Esau en ­Ewerts elkeen ’n drie gedruk. Esau het twee van dié drieë verdoel. Hy het ook twee strafdoele behaal.

In die tweede helfte het Faizel Fredericks, Progress se vleuel, twee drieë gedruk en hul agtsteman, Christo du Plessis, een drie. Cameron Mentoor, heelagter, het albei dié drieë verdoel. Hy het ook ’n strafdoel behaal.

Bridgton se volgende wedstryd is teen Heidelberg op Heidelberg.

Vir Bridgton was Sondag se oorwinning soet nadat hulle verlede jaar tydens hul wedstryd in die eerste SuperSport

Uitdaagtoernooi op die Plate teen ­Evergreens van George vasgeval het.

• Bridgton B het met 12-21 teen Progress B verloor terwyl Bridgton C hul eweknieë het 20-12 geklop het. Bridgton C se punte is aangeteken deur Ivano Malgas (14), Anver Venter (13), Denzil Prins (1) wat elk een drie gedruk het, Brian Jona- than (15) wat ’n strafdoel behaal het, en Venter  wat suksesvol was met een doelskop.

Charlton Ewerts, vleuel van Bridgton, Triomfantlik op pad vir sy tweede drie.   Foto:  Ebenezer Titus

Charlton Ewerts, vleuel van Bridgton, Triomfantlik op pad vir sy tweede drie. Foto:  Ebenezer Titus