39-jarige polisiesersant, Bennet de Wee, is nie net onder misdadigers gevrees nie, maar hy is ook op die gholfbaan ’n naam wat gesag by sy teenstanders afdwing.
Bennet vertel dat hy op skool ’n belangstelling in gholf getoon het, toe hy toe reeds begin gholfsakke ronddra het as ’n caddy. Hy het later by van die spelers geleentheid gekry om self ’n paar houe te slaan en het die gogga begin byt.
Bennet noem dat van die senior spelers aan hom genoem het dat hy natuurlike talent het en hom begin touwys maak. Hy het later tydens sy afdienstye ure op die gholfbaan deurgebring. “Ek het soms nege-uur gholfbaan toe gegaan en geoefen tot wanneer ek my oudste seuntjie eenuur by die skool moes gaan haal,” vertel hy.
Sy toegewydheid is beloon toe hy in 2014 reeds as klubkampioen van die Ladismith Gholfklub gekroon is. Hy het in 2015 die eerste gekleur-de speler uit Kannaland geword wat die WP-Polisiespan gehaal het. Vanaf 2017 tot 2019 het hy jaarliks die Wes-Kaapse SAPS-span gehaal.“Gholf is ’n duur sport en kan ’n goeie gholf-stel jou tot R10000 uit die sak jaag,” sê Bennet.
Hy noem dat hy geëerd was om in 2018 aan die Nasionale Toernooi vir SAPS-lede in Bloemfontein te kon deelneem. Hy sê dat hy hier uit ’n groep van 80 spelers die 11de posisie behaal het en dat hy silwer met ’n halwe punt misgeloop het.
Sy voorgee is tans 4,9 gemiddeld. Hy sonder kapt Pierre Burger as sy rolmodel in die polisiespan uit.
Bennet, ’n sersant in die polisie-diens, se doelwit is om konstant in die nasionale span opgeneem te word. “Rory McCilroy, van Noord-Ierland en Eldrick ‘Tiger’ Woods is die groot name wat my inspireer.
“Op 18 Oktober vanjaar neem ek aan die Kingswood Ope op George deel as onder-kaptein van SAPS, Suid-Kaap, en my opgewondenheid ken geen perke nie!” sê ’n nederige Bennet.
Ten slotte noem hy dat hy beoog om afrig-tingsklinieke vir belangstellende jong seuns en dogters te hou en sodoende kinders van die straat te hou.
Dit is duidelik dat die naam “Bennet de Wee” nog baie gesag in die gholfwêreld gaan afdwing! (Deur Deon Meyer)