
Die 15de jaarlikse Battle of the Karoo skopboks-toernooi is op 7 Maart 2026 met groot sukses by die De Jager Sportkompleks in Oudtshoorn aangebied deur Grebe’s Kickboxing Club. Die gewilde sportgeleentheid het deelnemers van regoor die Wes-Kaap en Oos-Kaap gelok en het ’n dag vol opwindende gevegte opgelewer.
Vanjaar se toernooi het ook die terugkeer van die gewilde “Tatami Fight Night – Rise of the Champion” ingesluit. Tydens hierdie aandgeleentheid het ’n uitgesoekte groep vegters hul vaardighede in intense gevegte gewys wat groot byval by toeskouers gevind het.
Die Battle of the Karoo het oor die jare ontwikkel tot ’n belangrike platform waar skopboksers van verskillende ouderdomme en vaardigheidsvlakke die geleentheid kry om hul talent te wys en waardevolle wedstrydervaring op te doen. Volgens die organiseerders gaan die toernooi nie net oor kompetisie nie, maar ook oor die ontwikkeling van jong atlete.
Skopboks help om dissipline, selfvertroue en deursettingsvermoë by kinders en jongmense te ontwikkel.
Verskeie klubs uit die Wes-Kaap het aan die toernooi deelgeneem, waaronder Grebe’s Kickboxing Club, DMF George, Divinus George, SKA Plettenbergbaai, ASKK Knysna en Stillbaai Kickboxing Club. Klubs uit die Oos-Kaap, soos Botha’s J-Bay, Madibabay Kickboxing en Strydom’s OP, was ook verteenwoordig.
Daarbenewens het Kaapstad Klubs, insluitend Elite MMA Kickboxing en Wings of Glory, ook deelgeneem.
Die gasheerklub, Grebe’s Kickboxing Club, het 55 vegters ingeskryf en uitstekende resultate behaal. Die span het 28 goue medaljes, 32 silwer medaljes en 12 bronsmedaljes verower. Tydens die “Tatami Fight Night – Rise of the Champion” het Grebe’s Kickboxing ook ses goue medaljes en vyf silwer medaljes gewen.
Die organiseerders het hul dank uitgespreek teenoor die borge en ondersteuners wat gehelp het om die toernooi moontlik te maak. Met elke jaar groei die Battle of the Karoo in gewildheid, en die klub sien reeds uit na volgende jaar se 16de toernooi.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskappe vind van 24 tot 28 April vanjaar in Oudtshoorn plaas waaraan 19 skopboksers van Grebe’s Kickboxing Club sal deelneem. (GRANWILLE GOLIATH)