Aubrey rol nog met die beste

AUBREY CHRISTIE, ’n lid van die Oudtshoorn Rolbalklub, bewys deesdae aan Oudtshoorniete wat die baan met hom deel, dat al is hy gestremd moet hy nie onderskat word nie.

Christie het volgens klub-sekretaris, Alewyn Hanekom, enkele jare gelede ’n beroerte gehad, wat hom aan die linkerkant van sy lyf aangetas het, van tone tot skouer.

“Dit was ’n knou, want Aubrey is linkshandig. Dit het beteken dat hy van voor af moes begin leer om te boul met sy regterhand,” sê Alewyn.

Volgens Hanekom het Christie hard geoefen en vandag speel hy ’n uitstekende spel rolbal met sy regterhand. Hy speel nie net sosiale rolbal nie, maar ook in een van die Oudts­hoorn Rolbalklub se spanne. Voorts mis hy geen pretdag of geborgde dag nie en is dié dae bra vervelig as Christie nie ’n ronde of twee speel nie, sê Hanekom in ligte trant. “Hy is ’n lojale lid en dien in die klubkomitee.”

Christie sê mense wat “verskillende vermoëns” het, moet meer blootstelling kry. “Ek wens daar was meer toernooie vir ons,” sê hy.

Christie het 20 jaar gelede in KwaZulu-Natal rolbal begin speel. Hy was ’n kroegman by Greytown Bowls Club en is genooi om in ’n sakeliga te speel. Van toe af was hy verslaaf aan die spel.

Nadat hy na Oudtshoorn verhuis het, het hy drie jaar vir Eden Seniors speel. Ná sy beroerte moes hy egter afskaal.