Anel van Wyk in aksie.
Deur Ilze-Mari Gründling
Anel van Wyk van Oudtshoorn het Sondag (17 September) die 22ste plek vanuit 2 795 vroue behaal in die Sanlam Kaapstad Marathon.
Van Wyk, ’n ma van vier, het die marathon in ’n goeie tyd van 3 uur 8 sek afgelê.
Sy vertel dat sy nog altyd ’n liefde vir sport gehad het, maar dat sy dit weer herontdek het na die geboorte van haar derde kind in 2010.
“Ek het begin stap om van die babavet ontslae te raak en dit het verander in ’n paar kilometer se draf. Die draf-gogga het my gebyt, en nou is ek verslaaf daaraan!”
Van Wyk se eerste 10 km-wedloop was die De Zeekoe Wedloop in Januarie 2011. Daarna het sy lus gekry vir langer afstande.
Sy het die Comrades in 2015 en 2016 aangedurf en was verlede jaar die 43ste vrou oor die wenstreep. Sy het ook verlede jaar die Two Oceans (56 km) in 04:28 kafgedraf.
Van Wyk is verlede jaar genooi om by die Nedbank Green Team van Nick Bester aan te sluit.
Haar gunsteling oefenroete is die Vergelegenpad. “Dit is ’n uitdagende roete. Ek kyk hoe ver ek myself kan druk. Dit maak ’n mens fisiek en emosioneel sterk.”
Van Wyk vertel haar kinders is ook haar dryfkrag. “Hulle praat my altyd moed in en kyk so op na my dat ek hulle nie wil teleurstel nie. Ek is die een wat vir hulle leer dat aanhouer wen – om bo uit te kom vat harde werk en as jy iets wil bereik moet jy hard werk vir dit.”
Sy het nie persoonlike afrigters of dieetkundiges wat haar help nie.
“Ek het myself bewys en solank jy in die Here vertrou en Hom saamvat in alles wat jy aanpak, sal jy slaag. Dit maak nie saak van waar jy kom of wat jou omstandighede is nie – bly glo in jouself en bly positief.”