Adias se beste vertoning nog!

Die span van Adias ná die eindstryd.

Die span van Adias ná die eindstryd.

Adias se geesdriftige ondersteuners.

Adias se geesdriftige ondersteuners.

DIE A-span van Adias Rugbyklub van Volmoed naby Oudtshoorn het vanjaar sy beste vertoning nog op die rugbyveld gelewer sedert sy ontstaan in 2000.

Adias het op Saterdag, 19 Augustus, op die Oudtshoorn Sportgronde in die eindstryd van die Karoostreekliga met 15-20 teen Oudtshoorn Rugbyklub verloor.

Uit die vyftien wedstryde wat Adias vanjaar gespeel het, het hulle twaalf gewen en drie verloor. Hulle was ook die enigste span wat vanjaar ’n oorwinning oor Oudtshoorn behaal het. Dit was in die tweede ronde van die liga.

Adias se afrigter, Lionel Prinsloo, skryf die span se sukses toe aan harde werk, toewyding van die spelers, afrigtingstegnieke en, laaste maar nie die minste die gesindheid en dissipline van die spelers.
Die klub het altesame sowat sestig spelers en het ’n A- en ’n B-span. Die span se spelers is hoofsaaklik van die Volmoed-omgewing. Daar is egter ook spelers van onder meer Oudtshoorn en Bridgton wat vir die klub speel.

Adias het nie ’n rugbyveld in Volmoed nie, en ry Dinsdag- en Donderdagaande met ’n taxi na die Bridgton Sportgronde waar hulle oefen.

Die beste wat Adias al voorheen gevaar het, is ’n derde plek in die Karoostreekliga.
SWD ondersteun die klub finansieel en hulle word geborg deur Highgate. Die klub bied ook verskeie geleenthede aan om finansies in te samel.