Bradwin Arries (in blou), losskakel van Adias wat drie drieë gedruk het. Foto: Ebenezer Titus
Deur Wyndham Ewerts
ADIAS Rugbyklub het Saterdag op die Oudts-hoorn Sportgronde sy SWD Karoostreekligawedstryd teen Korrektiewe Dienste van Oudtshoorn met 42-24 gewen. Adias was rustyd 27-12 voor.
Vir Adias het Bradley Arries, losskakel, drie drieë gedruk. Greg Julies (heelagter), Charlton Prinsloo (vleuel) en Damian Wagenaar (1) het elk een drie gedruk. Prinsloo was ook in die kol met drie doelskoppe en twee strafskoppe.
“Ons het aanvanklik gesukkel in die skrums, maar gelukkig het ons plaasvervangersbank die knoop vir ons deurgehaak,” het Lionel Prinsloo, afrigter van die span, gesê.
“Ons is tans gesamentlik tweede op die punteleer van die Karoostreekliga saam met Haarlem Swings wat een wedstryd meer as ons gespeel het.
“Saterdag se wedstryd op die Rec teen Dysselsdorp Rangers, wat voorloop in die liga, gaan dus van deurslaggewende belang wees as ons aan die einde van die seisoen bo aan die punteleer wil wees. Ons doelwit is om volgende jaar in die SWD Presidentsliga te speel nadat ons dit verlede jaar net-net gemis het,” het Prinsloo gesê.