Laerskool Wesbank, in Oudtshoorn het verlede Vrydag, 24 Mei, ’n suksesvolle muntlegging ten bate van Coronation Memorial Aftree-oord gehou.
Hierdie projek is deur die skool se leerderraad geïnisieer. Leerders het met groot ywer hul spaarvarkies leeggeskud, beursies deurgesnuffel en elke denkbare munt van die huis af saamgebring.’n Bedrag van R3 654 is die oggend ingesamel en die geld sal gebruik word om al die oumas en oupas by hierdie instansie se harte bly te maak.
“Ons gaan inwoners op 7 Junie 2024 bederf met warm sokkies en ook ’n bederfpakkie met malvalekkers, heerlike cappuccino en ’n pakkie skyfies vir elk,” het Jackie van Tonder, ’n onderwyser en koördineerder van die projek aan Die Hoorn gesê.