Minette Steyn.
SY wil die wêreld sien en ’n verskil maak, sê Minette Steyn (18) van Langenhoven Gimnasium wat sewe A’s en ’n gemiddeld van 87,28% in die matriekeksamen behaal het.
Minette beoog om ’n kursus te doen om Engels oorsee aan te bied en dan in China te gaan skoolhou. “Solank as wat ek kan onthou wou ek die wêreld sien. Ek glo vas dat as jy dit droom, kan jy dit doen,” sê sy.
Minette wil 2018 gebruik om haarself beter te leer ken en haar perspektief op die wêreld te vergroot voordat sy op ’n universiteitskursus besluit.
“’n Mens moet nie gejaagd voel om jou eie lewe te beplan nie. My ouers het nog altyd my individualiteit ondersteun en ek is baie dankbaar daarvoor.”
Minette is in 2017 aangewys as haar skool se beste tweetalige senior leerder en was in 2016 die Dynamite Dance Studio (nou die ProAcademy) se Moderne Danser van die Jaar. Behalwe dat sy van dans hou, is sy ook lief vir sport en skilder.
Die afgelope twee jaar was Minette as vrywilliger betrokke by die ACVV en het sy ’n paar projekte geïnisieer. Sy vertel dat sy hoop om eendag haar eie internasionale humanitêre organisasie te stig!
Minette se ouers is Pieter en Sanelle Steyn. Sanelle is die bestuurder van BestFitGlass op Oudtshoorn en Pieter ’n verkoopsbestuurder in Dohar.