Zoe Davids, leerder van die Hoërskool Oudtshoorn, in aksie tydens die Spelling Bee-kompetisie van die WKOD. Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
DIE Spelling Bee-kompetisie wat deur die streekkantoor van die Wes-Kaap Onderwysdepartement (WKOD) op Oudtshoorn vanjaar vir die negende keer aangbied is, maak volgens die organiseerders ’n groot verskil aan die vaardigehde van leerders.
Wilna Frances, adviseur vir leerondersteuning, wat die projek koördineer, sê al die skole in Oudtshoorn en in kringe 5 en 6 is genooi om vanjaar deel te neem. Altesaam 47 leerders van sekondêre en primêre skole so ver as Haarlem in die Langkloof het vanjaar opgedaag en mekaar die stryd aangesê.
“Die doel van die projek is om die geletterdheidheidsvlakke van leerders te verbeter, maar daar is ook baie ander vaardighede soos optrede voor ’n gehoor, luistervaardighede, die korrekte gebruik van ’n mikrofoon, ens wat aandag geniet,” het Frances gesê.
Die kompetisie toets die leerders se vaardighede om korrek te kan spel in Afrikaans sowel as in Engels. Daar is ’n afdeling waarin hulle woorde moet spel waarvoor hul vooraf kon voorberei, maar ook ’n afdeling waar voorbereiding nie vooraf moontlik was nie.
Die Spelling Bee word in samewerking met die Oudtshoorn Munisipaliteit aangebied en by Dinsdagaand, 16 Oktober, se opening was die speaker, Julia le Roux Krowitz, sowel as twee raadslede, Johan Fourie en George Kersop, teenwoordig. Louis Booysen, jeugkoördineerder van die munisipaliteit het ook die geleentheid bygewoon.
Die wenners in die laerskoolafdeling was soos volg:
Graad 4: Wyad Washingreen van Saturnus Primêr.
Graad 5: Jay-Leasha Manewill van Sacred Heart Primêr.
Graad 6: Allison Bainara van Colridge Primêr.
Graad 7: Nomvula Pasja van Colridge Primêr. Sy was ook die algehele wenner.
In die sekondêre afdeling was die wenners:
Graad 8: Ayron Daniëls van die Hoërskool Uniondale.
Graad 9: Faqeera Groenewald van Haarlem Sekondêr.
Graad 10: Curnell September van Dysselsdorp Sekondêr.
Graad 11: Caroline Guder van Langenhoven Gimnasium.
Curnell was die algehele wenner
Die algehele wenners het elk R1 000 ontvang en elke wenner het R250, plus ’n woordeboek, ’n melkskommel en safaritoer geborg deur die CP Nel Museum ontvang.