Skool in nood kry rekenaars

DAAR was onlangs groot vreugde by Klipdrift Primêr, ’n landelike multigraad-skool in die omge­wing van Zebra (tussen Oudtshoorn en George) toe die Hoërskool Oudtshoorn 10 rekenaars aan hulle geskenk het.

Die skool is gehuisves in ’n kerksaal wat in twee klaskamers verdeel is. Die een klas huisves 19 graad 1- tot 3-leerders en die ander 33 graad 4- tot graad 7-leerders. Talle leerders stap daag­liks skool toe, terwyl ander met ’n skoolbus ry.

Volgens die skoolhoof, Marli Visser, is hulle grootste struikelblok by die skool lopende water. Hulle is afhanklik van water wat van Oudtshoorn af aangery word en in tenke gepomp word.

Die skool het ook geen speelapparaat of sportfasiliteite nie.

“Baie ouers is seisoenwerkers op plase en kan nie altyd bydra tot fondsinsamelings nie. Die skool is dus baie afhanklik van borgskappe en donasies.

Enigiemand wat die skool wil steun deur dona­sies of hulp kan Visser e-pos by klipdriftprim@ gmail.com. Die telefoonnommer is 044 279 1459.