Nuwe kleuterskoolgebou, danksy die Lotto

Links: Agter van links staan Dino Tiemie (werknemer: Ben Vrey- kontrakteur) en Ben Vrey. Tweede ry: Inge Ewerts (opvoeder), Hestia Wonderlik (Graad R), Leonie Prinsloo (babas 0 - 2 jr), Catherine du Preez (opvoeder), Sylvia Lewis (kombuis), Leen van Hansen (kombuis) en Glenise Leonardo (opvoeder). Voor sit Zolani Mnqandi (NLC), Hester Wonderlik (prinsipaal) en Bukelwa Maxakana (NLC). Foto:  Ilze-Mari Gründling

Links: Agter van links staan Dino Tiemie (werknemer: Ben Vrey- kontrakteur) en Ben Vrey. Tweede ry: Inge Ewerts (opvoeder), Hestia Wonderlik (Graad R), Leonie Prinsloo (babas 0 – 2 jr), Catherine du Preez (opvoeder), Sylvia Lewis (kombuis), Leen van Hansen (kombuis) en Glenise Leonardo (opvoeder). Voor sit Zolani Mnqandi (NLC), Hester Wonderlik (prinsipaal) en Bukelwa Maxakana (NLC).  Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE nuwe gebou van die bekende Sonskynhoekie Kleuterskool in 18de Laan, Bridgton, sal volgens die prinsipaal, Hester Wonderlik, op Maandag 5 Februarie vanjaar open.

Die Sonskynhoekie Kleuterskool het in 1993 van­uit ’n sopkombuis in Mullerstraat ontstaan en in 1997 na die ou Waterwese-gebou in 18de Laan verhuis. In 2014 het die Nasionale Lotery ’n advertensie geplaas dat hulle befondsing vir Vroeëkindontwikkelings-maatskappye beskikbaar sal stel en in 2015 het Wonderlik daarvoor aansoek gedoen. Die aansoek is goedgekeur en in 2016 is die ou gebou waarin die kleuterskool gehuisves was, gesloop en het bouwerk begin. Die gebou is in Desember verlede jaar voltooi.

“Ek het nie gedink ons sal dit kry nie. Ek is baie dankbaar daarvoor. Ek het amper gedink dat ons nie die spertyd vir die aansoeke sou haal nie! Ons kan nie wag om te begin sodra ons die nodige meubels en toerusting ontvang het nie,” sê Wonderlik.

Die nuwe gebou spog met ’n kombuis, twee kleedkamers vir die seuns en meisies, insluitend ’n badkamer wat toegerus is vir gestremde kinders, ’n siekeboeg en twee groot klaskamers wat elkeen in twee verdeel kan word, asook stoorkamers.
“Ons beplan om twee maaltye en twee peuselhappies aan die kinders te voorsien. Ons opvoeders is opgelei (tot vlak 5) en het goeie agtergrondkennis. Ons bied ook ’n program aan vir kinders vanaf twee jaar.”

Volgens Wonderlik kan die nuwe skool sowat 151 kinders (babas tot ses jaar) huisves en beplan sy om in die toekoms die skool te vergroot.

“Die skool is tans volbespreek vir die jaar – tot die waglys is vol! Sonskynhoekie Kleuterskool is al vanaf 1993 aan die gang en ons glo daarin om kwaliteit voorskoolse onderrig vir die kinders te bied. Ons is ook tydens vakansietye oop sodat die ouers met ’n geruste hart werk toe kan gaan.”

Wonderlik vertel dat sy baie dankbaar is teenoor al die ouers.

“Ons is baie dankbaar vir die ouers wat ons bygestaan het deur die moeilike tyd – veral terwyl ons so van plek tot plek moes skuif. Ons waardeer dit baie.”

Vir enige navrae kan Wonderlik by 078 322 8119 geskakel word.

Sonskynhoekie Kleuterskool weer oop in Februarie

Foto’s: Wyndham Ewerts

Foto’s onder en bo: Wyndham Ewerts

5 voor

4

2

3