Nuwe Hoërskool Protea open sy deure!

Die opening van die Hoërskool Protea in Bridgton gister was ’n geskiedkundige dag in die onderwys op Oudtshoorn. Die leerkragte van die skool is in die middel van lanks Walt Böhme, Johan Hendriks (departementshoof), Johan Claassen (hoof), Megan Presher en Kaydene Jones.

Die opening van die Hoërskool Protea in Bridgton gister was ’n geskiedkundige dag in die onderwys op Oudtshoorn. Die leerkragte van die skool is in die middel van lanks Walt Böhme, Johan Hendriks (departementshoof), Johan Claassen (hoof), Megan Presher en Kaydene Jones.

DIE opening van die Hoërskool Protea gister in Bridgton is ’n geskiedkundige oomblik in die geskiedenis van die onderwys op Oudtshoorn.

Die skool is waar die Protea Primêr voorheen was. Protea Primêr se leerders en opvoeders is na ’n buurskool, De Villiers Primêr wat oor voldoende klaskamers en onderwysgeriewe beskik, oorgeplaas.

Hoërskool Protea se hoof, Johan Claassen (die vorige hoof van die Hoërskool Oudtshoorn) het gister gesê hy voel baie positief oor die toekoms van die skool. “Ek dink ons het baanbrekerswerk kom doen hier waar daar ’n behoefte bestaan het. Ons het uit niks ’n hoërskool kom skep.

“Ons doen dit op ’n goed georganiseerde, georkestreerde manier saam met mnr Chris Swanepoel, kringbestuurder van kring ses, en sy personeel. Hulle gee ons uitstekende ondersteuning.”

Volgens Claassen word die skool ooreenkomstig die tradisionele proses van graadinfasering gestig. “Ons het vanjaar net graad 8’s. Tot dusver het sestig leerders al ingeskryf, maar ons verwag dat heelparty nog sal kom inskryf.

“In 2018 as ons huidige leerders na graad 9 gaan, sal ons weer graad 8’s inneem en so sal ons aangaan. As ons huidige graad 8’s in 2021 na matriek toe gaan, sal ons ’n volwaardige skool met graad 8’s tot graad 12’s wees,” het hy gesê.

Benewens Claassen het Hoërskool Protea nog vier onderwysers. Hulle is:
• Johan Hendriks, departementshoof. Hy het voorheen by Prins Albert Primêr skoolgehou;
• Kaydene Jones, dogter van Keith Jones, hoof van De Rust Primêr;
• Megan Presher, dogter van Johnny Bisschoff, hoof van die Laerskool van Reede; en
• Walt Böhme, oud-leerder van die Hoërskool Oudtshoorn.

Volgens Swanepoel sal Protea Primêr die druk op die bestaande hoërskole van die Groter Oudts­hoorn, wat reeds met lang waglyste vir graad 8-leerders sit, baie verlig.

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement poog voorts om die deur­vloei van graad 7-leerders na graad 8 te verhoog.

’n Tussentydse skoolbeheerliggaam (SBL) sal Claassen help met die beheer van die skool.
Die tussentydse SBL bestaan uit Claassen, Swa­nepoel, Berenice Philander (administratiewe klerk) en Laurika Ellman (tesourier). Kennisgewings vir die verkiesing van ’n nuwe skoolbeheerliggaam sal die ouers vroeg in die nuwe jaar bereik.

Die skooldrag van die skool bly dieselfde as dié van Protea Primêr. Vir die seuns is dit ’n wit hemp en grys broek en vir die meisies ’n wit hemp en groen romp.