Hugo du Plessis en Mari-Lize Warrington (agter) en Carmen Ellis van die Cango Wildlife Ranch, saam met die Laerskool Wesbank se hoofleiers Lian Lennox en Jodi Potgieter, met die bekendmaking dat die Laerskool Wesbank die meeste herwinbare rommel ingesamel het. Foto Angelique Erasmus
Deur Angelique Eramus
DIE gewig van herwinbare rommel wat deur drie laerskole van Oudtshoorn ingesamel is, weeg soveel soos drie groot olifante!
Dié insameling was deel van ’n inisiatief #BeeGreen wat deur die Cango Wildlife Ranch (CWR) en die World Association of Zoos and Aquaria (WAZA) geborg is.
Die inisiatief het reeds in Mei verlede jaar begin toe ses helderkleurige herwinningshouers, twee by elk van die drie deelnemende skole, Laerskool Wesbank, Laerskool Laurus en Laerskool van Reede, geplaas is.
Die doel van die inisiatief was om die leerders aan te moedig om die omgewing en die natuur te bewaar.
Die Laerskool Wesbank is Woensdagoggend as die wenners van die #BeeGreen-initiatief aangewys.
Elkeen van die 667 leerders asook die hele personeel van die skool het ’n toegangskaartjie tot Cango Wildlife Ranch gewen as hul prys. Al dié kaartjies sou R97 650 gekos het.
Van die totale 3.8 ton rommel wat ingesamel is, het Laerskool Wesbank meer as die helfte ingesamel.
Die twee houers, een by die Snoepie en een by die parkeerterrein sal op die skool se perseel gelos word om leerders aan te moedig om voort te gaan met herwinning.
Hugo du Plessis, operasionele direkteur van CWR, het leerders aangemoedig om ook tuis te herwin. Hy het gesê daar word gekyk na ’n toekomstige projek, Eco Bricks. Dit word gemaak deur plastiek dig in ’n 2lt-koeldrankbottel te pak om strukture daarmee te bou, het hy gesê.