Krieket SA vereer Bradley

Bradley Manewil (17), leerder van Eljada-Kairos wat die naweek deur Krieket Suid-Afrika vereer is, hier saam met die Protea-krieketspeler Lungi Ngidi. (Foto verskaf)

’N LEERDER van die Eljada Kairos Skool op Oudtshoorn, Bradley Manewil, is die naweek by ’n glansfunksie in Pretoria deur Krieket Suid-Afrika vereer vir sy skitterspel by die Suid-Afrikaanse Sportassosiasie (SASA) se toernooi vir intellektueel inge-perkte persone.

Bradley is Saterdagaand (3 Augustus) aangewys as Speler van die Toer­nooi.

“Bradley het die skool ’n groot eer aangedoen. Hierdie is beslis die skool se grootste prestasie sedert Eljada Kairos Skool sy deure in 2012 oopgemaak het,” sê Hennie Baartman, skoolhoof van Eljada Kairos.

Baartman sê Bradley se besonderse prestasie bevorder die skool se beeld.

“Ek wil graag al ons skool se borge bedank vir hul ondersteuning. Hulle maak dit vir ons moontlik om platforms te skep waar ons vir die kinders kan blootstelling gee en sportgeleenthede kan skep.”