Gimmies presteer in gimkana

Die Gimmies met hul trofees wat hul gedurende Desember vir hul prestasies in gimkana ontvang het, is van links Sharé Lund, Chrismari Strydom, GW Lund, Jacquine Strydom en Mia Esterhuizen.

Die Gimmies met hul trofees wat hul gedurende Desember vir hul prestasies in gimkana ontvang het, is van links Sharé Lund, Chrismari Strydom, GW Lund, Jacquine Strydom en Mia Esterhuizen.

Deur Higgo Jacobs
DIE Wes-Kaapse span met vyf Gimmies in sy geledere het gedurende ’n interprovinsiale gimkana-toernooi in Tarkastad op 11 Desember stof in die ander spanne se oë geskop, en as die beste span uit die stryd getree.

Die Gimmies het verskeie pryse en trofees gewen.

Sharé Lund en Chrismari Strydom het die Trofee vir Beste Half-seksie ontvang.

Sharé het ook die Best Girl-toekenning ontvang met ’n voltelling.

Tydens die SA-Kompetisie van 10-11 Desember 2017 het al vyf Gimmies wat deelgeneem het, medaljes verwerf, hetsy in individuele items, of in spanitems waaraan hul deelgeneem het.

Mia Esterhuizen (’n nuwe ruiter) was deel van ’n span wat die silwer medalje vir Indian File-Lance ontvang het. Jacquine Strydom was deel van ’n span wat die trofee vir die Beste Seksie ontvang het.

Sharé het ook ’n silwer medalje vir die ring-en-pen-item (individueel) ingepalm.
Chrismari het die goue medalje vir die ring-en-pen-item (individueel) gewen en brons vir die Skill-at-Arms-item (individueel).

GW Lund het die Victor Ludorum-trofee (seuns) ontvang. Hy het me-daljes in verskeie items verwerf asook die Best Man-toekenning met ’n voltelling.

• Ná die toernooi is Chrismari in die Presidentspan (meisies o.19) opgeneem en GW Lund in die Protea-span (seuns o.19).